Mwatile (51) en Hamunyela (3/16) blink vir vroue-Eagles
Die Namibiese vrouekrieketspan, die Capricorn Eagles, het Sondag hul reeks van ses T20-wedstryde teen die Ierland o.19-toerspan met ‘n oorwinning van 50 lopies (DLS-metode) geopen.
Victoria Hamunyela van Namibië is as speler van die wedstryd aangewys, nadat sy drie Ierse paaltjies platgetrek het.
Voor die wedstryd by die HP-ovaal in Olympia het die tuisspan se kaptein Sunè Kotze-Wittmann die loot gewen en gekies om eerste te kolf. As aanvangskolwer het sy haar vennoot vroeg verloor toe Mezerly Gorases (3 van 2 balle) geboul is.
Sunè Kotze-Wittmann (44 van 42 balle) het vyf viere geslaan en is net kort van haar vyftigtal uitgevang, maar haar vennootskap met nommer drie Mekelaye Mwatile (51 van 53 balle) het Namibië se telling vanaf 9/1 tot 199/2 (14.2 boulbeurte) aangestoot.
Namibië het sy 19 boulbeurte op 140/3 afgesluit, met Edelle van Zyl (17* van 16 balle; 2x4) en Wilka Mwatile (1* van 2 balle) die onoorwonne kolwers.
Ierland se teiken is tot 146 in 19 boulbeurte aangepas. Die wedstryd is effens verkort weens tyd wat verlore gegaan het toe weerlig in die omgewing tydens die Namibiese kolfbeurt voorgekom het.
Die Namibiese boulers het vroeg en gereeld deurbrake gemaak om die toerspan aan bande te lê. Die Iere se nommer ses Genevieve Morrissey was uiteindelik hul topkolwer met 36 van 30 balle (5x4 1x6), maar ná 19 boulbeurte kon hulle net 95/6 bereik.
‘n Nuweling vir Namibië, Alexa Vorster, was die enigste bouler wat ‘n geringe mate van straf verduur het (0/25 in drie boulbeurte; ekonomie 8.33). Victoria Hamunyela (3/16 in 4 bb; 15 leë balle) het die pas aangegee terwyl Wilka Mwatile (1/5 in 2), Eveleen Kejarukua (1/13 in 4) en Saima Tuhadeleni (1/22 in 4) ook elk een paaltjie geneem het.
• Die uitslag van wedstryd 2 gister was teen druktyd nie bekend nie. Wedstryde drie tot ses se bepalings is soos volg:
Woensdag 28 Oktober, 09:00 by HP-ovaal.
Woensdag 28 Oktober, 14:00 by HP-ovaal.
Woensdag 28 Oktober, 09:00 by HP-ovaal.
Saterdag 28 Oktober, 14:00 by HP-ovaal.


