Nande, Walters wen reeks se openingstoernooi

Gholf
Likius Nande en Cehesta Walters het as wenners uit die stryd getree in die eerste toernooi van die 2024 Nedbank for Good-reeks, wat Saterdag by die Omeya-gholfklub gehou is.
Altesaam 112 spelers (100 mans en 12 vroue) het die reeks geopen wat ten doel het om inkomste vir Agra ProVision te genereer. Agra Provision het ten doel om onderbediende landbougemeenskappe op te lei, en met diens te ondersteun deur kapasiteitsbou te bevorder en bedryfsvaardighede oor te dra.
Die gedugte Nande het die manstoernooi met 43 punte gewen, voor Jean-Mark Mouton, wat ook 43 punte behaal het, en die derde geplaaste Rudolf Meyer (42).
By die vroue-afdeling het Walters (39 punte) net-net teen Ruanda de Beer (tweede) en Doulaine Holtzhausen gewen.
Walters sê sy het die kompetisie geniet, aangesien sy voor Saterdag se byeenkoms ’n bietjie gesukkel het met haar gholf.
“Op die baan het alles in plek geval. Die kompetisie onder die vroue is altyd taai, so jy moet op jou beste wees om te wen. Die weer was erg warm en ek moes gefokus bly om seker te maak ek verloor nie my wedstrydplan nie. Die hitte het baie energie getap,” het sy gesê.
Sy reken sy sal vanjaar aan meer Nedbank for Good-toernooie deelneem, insluitend een by die kus. Walters het die borge bedank wat die sport help ontwikkel en ook ’n verskil maak deur die welsynsorganisasies wat hulle ondersteun.
“Daar is heelwat vroue in Namibië wat gholf speel. Die plan is om hulle te kry om aan die Nedbank for Good-reeks deel te neem,” het Walters bygevoeg.
Die koördineerder van die reeks, Dan Zwiebel, sê hy is tevrede met die dag se verrigtinge aangesien alles volgens plan verloop het.
“Dit was ’n warm dag, maar ons het planne gemaak dat die deelnemers koeldrank kan kry en gehidreer bly.
“Ons is baie dankbaar vir die borge wat aan boord gekom het. Sonder hulle sou ons nie die reeks suksesvol kon aanbied nie. Ons sien nou uit na ons volgende geleentheid in Gobabis op 6 April,” het hy gesê.
Die bestuurder van Nedbank Namibië se kommunikasie- en skakelafdeling, Selma Kaulinge, sê sy is verheug oor die sukses van die eerste toernooi.
“Die ongelooflike bywoning op Omeya gee die toon aan hoe suksesvol vanjaar se reeks gaan wees. Dit bring nie net die gholfgemeenskap saam vir ’n goeie doel nie, maar dit wys ook die krag van kollektiewe optrede om ons plaaslike landbousektor te ondersteun.
“By Nedbank Namibië glo ons daaraan om slim met geld te werk en positief by te dra. As ons sien hoe ons as ’n kollektief kan saamkom, is dit verblydend om te sien hoe geleenthede soos die Nedbank for Good-reeks manifesteer. Welgedaan aan alle deelnemers, borge en organiseerders vir jul deelname aan hierdie reis om ’n betekenisvolle impak te maak,” het Kaulinge gesê.
Ná Gobabis sal die reeks na Tsumeb op 8 Junie, Oshakati op 22 Junie, Mariental op 13 Julie, Oranjemund op 3 Augustus, Hentiesbaai op 17 Augustus, Rossmund op 24 Augustus, Walvisbaai op 31 Augustus en Windhoek-gholfklub op 14 September aanbeweeg.
Die eindtoernooi is op 4 Oktober by Omeya geskeduleer.
Die 2024 Nedbank for Good-reeks se medeborge is Pupkewitz Toyota, Vivo Energy Namibia, Agra, AfricaOnline, Namibia Building Solutions, APS, Erongo Marine Enterprises, The Logistics Company Namibia, Gondwana Collection Namibia, CB Enterprises, Pupkewitz Megabuild en Future Media.