Nicol se versnelling kelder Rhinos

Krieket
Nicol Loftie-Eaton is die nuwe houer van die wêreldrekord vir die vinnigste internasionale T20-honderdtal.
Tielman Van Lill
Die Richelieu Eagles (206 vir 4 in 20 boulbeurte) het gister in Kirtipur vir Nepal (186 almal uit in 18.5) met 24 lopies in die eerste internasionale T20-wedstryd van die driehoekige reeks oorskadu.
Nicol Loftie-Eaton met ’n briljante honderdtal van net 33 balle met elf viere en agt sesse geslaan – die vinnigste honderdtal nóg in ’n internasionale T20-wedstryd.
Twee-en-negentig van sy 101 lopies het vrylik van grenshoue gevloei vir die vinnigste honderdtal vir enige land in die geskiedenis van internasionale T20I-krieket. Die vorige wêreldrekord het aan Kushal Malla van Nepal behoort toe hy in 2023 sy honderdtal van 34 aflewerings teen Mongolië geslaan het.
Loftie-Eaton het benewens speler van die wedstryd ook ’n tjekkie vir die beste kriekethou van die dag ontvang.
Ruben Trumpelmann met vier paaltjies vir 29 lopies in 3.5 boulbeurte, het die beste aflewering van die dag geboul. Hy het onder meer die gevaarlike Kushal Bhurtel met die eerste bal van die wedstryd been voor paaltjie vir ’n nulletjie betrap, voordat hy later teruggekeer het om Nepal se laaste hoop uit te doof met twee paaltjies in twee balle.
Malan Kruger het in sy T20I-debuut as aanvangskolwer sy eerste vyftigtal behaal deur 59 nie uit nie van 48 balle, 6x4, 2x6) in ’n deurslaggewende vennootskap saam met Loftie-Eaton te slaan. Hul 135-vennootskap om die vierde paaltjie het vanaf boulbeurte 10.4 tot 19.2 geduur.
Loftie-Eaton is uiteindelik vir 101 deur Gulsan Jha in 19.2 uitgevang.
JJ Smit het as die Eagles se kaptein ingestaan in die plek van Gerhard Erasmus wat las van ’n tussenribspier ondervind het.
Hoewel Smit die loot gewen het, het hy besluit om eerste te kolf op dieselfde kolfblad waarop kolfspanne in die afgelope eendagreeks gedurende die oggendtye so gesukkel het.
Michael van Lingen (20 van 19 b, 2x4, 1x6), JP Kotzé (11 van 9 b, 1x6) en Jan Frylinck (5 van 7 b) was vroeë slagoffers, wat die Eagles op 62/3 in 10.4 gebring het.
In die laaste nege boulbeurte het Loftie-Eaton en Kruger egter ’n yslike 140 bygevoeg (15.5 per boulbeurt).
Rohit Paudel (2 paaltjies vir 30 in 4 boulbeurte), KC Karan (1/32 in 3) en Abinash Bohara (1/49 in 4) het vir die gasheerspan deurbrake gemaak.
NEPAL HET NIE OORGEGEE
Die tuisspan se aanvangspaar Bhurtel (0) en Aasif Sheikh (6) was beide deur Trumpelmann laat stap (2/20). Paudel op drie (42 van 24 b, 3x4, 3x6), Malla op vier (32, 21 b, 4x4, 1x6) en Dipendra Singh Airee op vyf (48 van 32 b, 2x4, 2x6) het vanaf boulbeurte 2.5 tot 18.4 uitstekend gevaar deur 166 lopies te timmer.
Voor hul tuisskare was Nepal met twee boulbeurte oor (24 lopies benodig) nog geensins begrawe nie, maar Trumpelmann (4/29 in 3.5) het met die gevaarlike Airee se paaltjie die doodskoot toegedien en onmiddellik daarna met Abinash Bohara (0) se middelpen klaargespeel.
Frylinck (2/36 in 4), Loftie-Eaton (2/29 in 3) en Bernard Scholtz (2/43 in 4) het ook die skroef styf vasgedraai en het deurbrake gemaak selfs nadat hulle straf moes verduur.
• Kyk die volle wedstryd: youtube.com/watch?v=xo2pPgxHJ_A
ANDER NAMIBIËRS
Louis Petrus van der Westhuizen, JP Kotzé en Gerhard Erasmus is die ander Eagles-kolwers wat tevore internasionale T20-honderdtalle behaal het.
• Van der Westhuizen het die Kenia-toerspan by die WHS Vegkop-veld in November 2011 verniel met 145 lopies voordat hy met sy 50ste bal uitgeboul is. Van der Westhuizen het altesame 14 viere geslaan en 12 sesse oor die grenstou laat vlieg, nadat sy vyftigtal (19 balle) en honderdtal (35 balle) ook met haastigheid aangeteken is. Dié wedstryd word aangedui as die vyfde van agt “nie-amptelike” internasionale T20-wedstryde van die Kenia-toer in Windhoek.
• JP Kotzé se honderdtal teen Botswana (101* van 43 balle) is in Augustus 2019 in Windhoek aangeteken en word as die eerste “amptelike” internasionale T20-honderdtal vir Namibië getel.
• Gerhard Erasmus, die eerste en enigste Namibiër sover met meer as 1 000 lopies in internasionale T20-krieket, se honderdtal (100*) was in ’n dramatiese verloorwedstryd teen Uganda in Windhoek in April 2022, wat hy van 47 balle behaal het.
VOLGENDE VIR EAGLES
Donderdag teen Nederland / Vrydag teen Nepal / Sondag teen Nederland / Finaal op Dinsdag 5 Maart.
[email protected]