Nortje as nommer een deur Keniaan en Zambiër uitgedaag
’n Nuwe kampioen sal komende Saterdag in die BDO Namibiese Ope muurbaltoernooi se vroue A-afdeling bekroon word, wat Donderdag by die Wanderers-muurbalklub in Pionierspark begin.
Suid-Afrika se gedugte nommer een Alexa Commins het verlede jaar die titel in Windhoek beklink sonder om ’n enkele stel af te staan. Sy het in die finaal teen haar landgenoot Shelomi Truter gewen.
Carla Nortje, heersende sportvrou van die jaar by die gasheerklub Wanderers, sal op haar tuisbaan die topgekeurde speler in vandeesweek se vrouetoernooi wees.
Die besoekende Diana Musa (Zambië) en Jane Njeri (Kenia se nommer een) is onderskeidelik tweede en vierde vir die toernooi gekeur, met nog ’n gewese Namibiese kampioen Adri Lambert derde gereken.
Musa het in 2023 derde ná die kampioen Dené van Zyl (RSA) en die verslane finalis Lida-Marie Calitz (Namibië) klaargemaak, wat vir Musa twee posisies beter as die vorige jaar was.
Njeri het aan die koerant gesê sy het nog nie tevore teen enige van die ander ingeskrewe vroue gespeel nie, maar hoop om elke wedstryd ten volle te geniet. ’n Hoogtepunt in haar loopbaan was laas November, toe sy haar land by die Afrikaspele in Uganda verteenwoordig het – “’n trotse oomblik om myself op kontinentale vlak te toets”.
Njeri sê dis haar eerste besoek aan Namibië. “Ek ondervind die weer soortgelyk as in Nairobi en voel geakklimatiseer. Ek het hard geoefen en ek hoop dit sal beloon word.”
Land se topgekeurde
Nortje het by verlede jaar se BDO Namibiese Ope die beste van die plaaslike vroue klaargemaak, toe sy die uitspeelwedstryd vir die derde plek teen Dené van Zyl van Suid-Afrika verloor het.
Nortje vertel: “Ek het voor 2024 glad nie aan enige toernooie deelgeneem nie, vanweë kniebeserings wat soms steeds pla. In 2024 het ek besluit die BDO sou die eerste enkelspeltoernooi in jare wees wat ek speel. Toe wen ek teen Adri Lambert (in daardie stadium nommer 1 in Namibië) en dis waar ek besluit het om aan te gaan.
“Verlede jaar se BDO-toernooi was nog ’n verrassing. Suid-Afrika se nommer een vrouespeler was hier en ek het die geleentheid gehad om teen haar te speel, wat wonderlik was. My vertoning was goed genoeg dat ek punte op my huidige ranglysposisie kon byvoeg.
“Die volgende groot toernooi was die Huester/ Monte Christo-toernooi. In daardie stadium was ek tweede gekeur in Namibië en die eindstryd was teen die nommer een Chantal de Gouveia. Daardie toernooi het ek gewen en my posisie het na nommer een in Namibië opgeskuif. Groot voorreg.
“Hierdie jaar is ek baie opgewonde om te kan speel teen Diana Musa, of Jane Njeri, teen wie ek nog nooit gespeel het nie. Ons wag nog om die finale loting te ontvang, maar dis altyd lekker om te sien hoe speel die ander lande se vroue, en die ervaring is baie opwindend, maar ook senutergend.
“Ek sukkel bietjie met senuwees voor ’n toernooi. Maar ek kry ongelooflike ondersteuning, en ek hoop en bid ek kan ons land se naam hoog hou vir die BDO Namibiese Ope.”
Die keuring vir die Vroue A-afdeling:
1 Carla Nortje (Namibië)
2 Diana Musa (Zambië)
3 Adri Lambert (Namibië)
4 Jane Njeri (Kenia se nommer een)
5 Gwen Lister (Namibië)
6 Elmarie Kotze (Namibië)
7 Liezel de Beer (Namibië)
8 Danelle Bronkhorst (Namibië)
9 Ilana Britz (Namibië)
10 Annabelle Knott (Namibië)
11 Bella Frohlich (het onlangs uit Australië na Namibië teruggekeer)
12 Jakkie Steenkamp (Namibië)
13 Scarlett McNamara (Namibië)
14 Wencke Bittkau (Namibië)
15 Kristen Brits (Namibië)
16 Kirsten Wolhuter (Namibië)
17 Rebecca Berry (jongste inskrywing, 9 jaar; Namibië)
18 Shishani Schnuck (tweede jongste inskrywing, 11 jaar; Namibië)
19 Luzaan Pretorius (Namibië).
• Die professionele BDO PSA manstoernooi het reeds gister by Wanderers begin, met totale prysgeld van US$15,000 op die spel. Arno Diekmann en Francois Hanekom junior is die twee Namibiese verteenwoordigers.
Wedstryde word regstreeks op https://oneuptwo.com uitgesaai.


