Nou tyd vir eendagwedstryde teen Proteas
Nóg geskiedenis word vandeesweek geskryf wanneer Suid-Afrika en Namibië se paaie vir die eerste keer in drie volwaardige internasionale eendagkrieketwedstryde (ODI’s) kruis.
Die Proteas en die FNB Eagles takel mekaar Woensdag, Vrydag en Sondag in ‘n eendagreeks by die FNB Namibië-krieketstadion, met spel wat daagliks om 09:30 begin.
In die ietwat langer formaat is Suid-Afrika tans in die vierde posisie op die wêreldranglys en ‘n outomatiese kwalifiseerder vir elke Wêreldbeker sedert 1992.
Hierteenoor word Namibië tans 17de ter wêreld in eendagkrieket gereken – ná Skotland (13de), Nederland (14de), die VSA (15de) en Oman (16de). Die Eagles het ook net ‘n enkele verskyning by ‘n ODI-Wêreldbekertoernooi gemaak, wat ook al ‘n leeftyd gelede was (2003 in Suid-Afrika).
Volgende jaar sal Namibië ‘n mede-aanbieder van die ICC Wêreldbeker in vennootskap met Suid-Afrika en Zimbabwe wees. Die Eagles sal egter vanweë hul lae posisie op die wêreldranglys eers deur die veeleisende kwalifiserende pad moet vorder, met ‘n paar deurslaggewende bepalings wat nog voorlê.
Kaptein Gerhard Erasmus en sy manne het reeds talle suksesse in internasionale T20-krieket behaal – insluitend ‘n 2-1 wenrekord teen die Proteas. Die langer formaat bied egter die volgende uitdaging.
Afrigter Craig Williams het bevestig dat die Eagles sonder beserings deur die T20-reeks gevorder het en dat dieselfde 16 spelers onveranderd vir die eendagreeks aangewys is.
FNB T20-reeks
Suid-Afrika het Sondagmiddag die driehoekige FNB T20-reeks in Windhoek beklink deur Zimbabwe in die eindstryd met 48 lopies te oorskadu.
Die Proteas (205/5) het die Chevrons vir 157 in 18 boulbeurte uitgeboul.
Die Suid-Afrikaners was meer klinies op die dag wat dit werklik saak gemaak het, om vir hul enigste nederlaag in die openingswedstryd teen Namibië te vergoed.
Die Proteas het gekies om eerste te kolf en 'n stewige totaal aangeteken, gebou rondom Jordan Hermann se 53 van 29 balle (8 viere, 1 ses). Hermann het later ook twee vangskote geneem om sy toekenning as speler van die wedstryd te verseker.
Die naatboulers Duan Jansen (3/38 in 3 boulbeurte) en Eathan Bosch (2/22 in 3) het tydens die kragspel uitstekend geboul, terwyl kaptein Bjorn Fortuin ook sy bydrae gelewer het met sy 3/24 in 4 boulbeurte.
Zimbabwe se strewe vir ‘n aggressiewe wegspring het bygedra dat hulle vier paaltjies in die eerste 23 balle verloor het – Brian Bennett (6), Ben Curran (0), Innocent Kaia (9) en Wessley Madhevere (6). Vanaf hierdie posisie was dit ‘n bykans onbegonne taak om weer op koers te kom in die jaagtog na ‘n wenteiken van 206 lopies.
Die Chevrons se nommer agt Brad Evans (56 nie uit nie van 31 balle; 4 viere, 4 sesse) het nietemin puik gekolf.


