NRU kies nuwe president om by Theron oor te neem

Rugby
Die kandidate is bekend wat Saterdagoggend by die jaarvergadering opgeweeg sal word.
Andrew Poolman

Die Namibië Rugbyunie (NRU) se era onder die presidentskap van Petrie Theron kom Saterdagoggend tot ‘n einde, wanneer sy opvolger by die jaarvergadering verkies sal word.

Theron, ‘n regspraktisyn van beroep, het ná die verstryking van sy termyn van vier jaar besluit om hom nie weer kiesbaar te stel nie.

Drie kandidate sal vir die posisie as president van die Rugbyunie staan. Rauha Nangula Uaandja het as ‘n buiteperd tot die wedloop toegetree, met ‘n agtergrond as geoktrooieerde rekenmeester en sedert Julie 2026 die uitvoerende direkteur van die EmeraldSand Platforms-maatskappyegroep.

Haar ondervinding in posisies van leierskap en strategiese visie sluit ook direkteursposte in prominente bank- en versekeringsgroepe in. Uaandja was ook vir vyf jaar, tot einde 2025, die uitvoerende hoof van die Namibiese raad vir bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB).

Christian Windvogel is ook ‘n kandidaat vir die presidentskap. As ‘n voormalige president van FNB Universiteit van Namibië het hy die afgelope vier jaar as die NRU se visepresident van bestuursake gedien.

Bradley Basson, ook ‘n ervare prokureur, het van 2012 tot 2018 as president van die NRU gedien, voordat Corrie Mensah as sy opvolger verkies is. Basson moes gedurende stadiums van sy era ook teenkanting van ‘n beswaarde groep afweer en hoewel hy sover bekend tydens Mensah en Theron se bewind geen aktiewe rol in Namibiese rugby vervul het nie, het hy en Windvogel jare se blootstelling aan die politieke winde wat die rigting van die beheerliggaam bepaal, asook van die wisselwerking met Wêreldrugby.

Die stemgeregtigde klubs en lidorganisasies van die NRU sal Saterdagoggend ook stemme in die NRU se ander leierskapposisies kan uitbring.

Die kandidate is soos volg:

PRESIDENT: Rauha Nangula Uaandja, Christian Windvogel, Bradley Basson.

VISEPRESIDENT vir bestuursake: Jacques Oosthuizen, Lorenzo Rieth, Christian Windvogel (huidig in die posisie).

VISEPRESIDENT vir rugbysake: Rowhan Besser, Johan Diergaardt (huidig in die posisie), Wessel Kotze, Hermann Rust.

Raadsposisies as streekverteenwoordigers (benoemings): Frik Engelbrecht (Noorde), Hermann Rust (Sentraal, premierafdeling), Rowhan Besser (Erongo), Karl Januarie (Sentraal eersteliga), Ronaldo Pedro (Sentraal eersteliga).