NTF vereer sy bestes in duathlon
Die Namibiese Triathlonfederasie het vir die vierde jaar in samewerking met IJG ‘n winterreeks van duathlons met maandelikse byeenkomste in Mei, Junie, Julie en daarna die nasionale duathlonkampioenskap in Augustus aangebied.
Die drawwers en fietsryers moes aan minstens drie van die vier byeenkomste deelneem.
Die medaljeseremonie vir alle kategorieë in die nasionale kampioenskap is vandeesweek afgehandel. Electro Boost en Plastic Packaging was ondersteunende borge van die reeks.
“Duathlon word algemeen gebruik om deelnemers vir triathlon voor te berei,” sê Adelé de la Rey, die nasionale afrigter. “Veral in die laaste twee jaar het ons heelwat groei in duathlons ervaar, wat die multi-sport op ‘n gesonde voet help plaas.
“Verskeie deelnemers besluit vanaf hierdie grondslag om dan hul vermoë as swemmers ook op die nodige vlak te bring om in triathlon kompeterend te word.”
Die nasionale duathlonkampioenskap se voorste uitslae:
Vroue standaard duathlon: 1 Anri Greeff (2 ure 14 minute 50 sekondes), 2 Louise Breed (2:16:58), 3 Lindie Tripodi (2:32:13), 4 Marcelle Eloff (2:59:34).
Mans standaard duathlon: 1 Johan du Plessis (2:10:04), 2 Mark Spath (2:17:40), 3 Marnus van Wyk (2:20:30).
Sprint-duathlon meisies: 1 Kyra Marschall (1:16:35), 2 Roselyn Mbathera (1:33:17).
Sprint-duathlon seuns: 1 Dawie Greeff (1:07:23).
Super Sprint meisies: 1 Qara Volschenk (0:37:34).
Super Sprint seuns: 1 Micah Chase (0:30:02), 2 Max Heigan (0:34:06), 3 Hendrik Baartman (0:34:16).


