Opwindende jaar wag vir gholfpare

Gholf
Die opbou is aan die gang na die wêreldfinaal wat vanjaar op die Kanariese Eilande gehou word.
Tielman Van Lill
Die King Price Internasionale Parespelkompetisie vir amateurgholfspelers het ’n nuwe baadjie aangetrek.
King Price Namibië sal vir die volgende drie jaar die hoofborg van die Internasionale Gholfparespelkompetisie in Namibië wees.
Christo van der Merwe, bemarkingsbestuurder van King Price in Namibië, het onlangs die borgskap aan Hugh Mortimer van African Sports Management Namibia oorhandig. Mortimer is die hooforganiseerder van die reeks in Namibië.
Van der Merwe het gesê: “King Price Namibië het die kans opgeraap om die primêre borg van die Namibiese Internasionale Parespel-kompetisie te word. Die rol was tevore deur Namibia Breweries Limited (NBL) met sy Windhoek Lager-handelsmerk vervul.
“Ons het dit as ’n uitstekende kans gesien om die gholfgemeenskap regoor die land te ondersteun.
“Ons is trots om aan te kondig dat King Price Namibië as die amptelike borg vir Namibië se grootste gholftoernooi, binnekort gaan afslaan.
“Deur met die Internasional Pare ’n vennootskap te vorm, voldoen King Price aan sy verbintenis om gebeure in ons eie samelewing te bevorder en versekering deur Namibiërs in Namibië aan te bied. Ons sien julle op die gholfbaan, konings en koninginne!”
Die landwye kompetisie was die eerste keer in 2016 deur Ian Stevenson van NBL in die hoofstad bekendgestel. Elke gholfklub oraloor Namibië bied sy eie kompetisie aan waarna streekfinale gehou word.
Die nasionale finaal is ’n reusetoernooi oor twee dae. Die eindtoernooi is verlede jaar by die Windhoek-gholfklub beslis. In die verlede het wenpare Namibië reeds met groot sukses in Portugal by die Wêreldparefinaal verteenwoordig.
Bertus Damon en Joseph Martin het Namibië in 2018 by die Wêreldfinaal in Portugal verteenwoordig. Damon en Martin het toe die titel teen ’n veld van sestien spanne van oraloor die wêreld ingepalm.
Damon het in 2022 met Hylton Villet kragte saamgespan en wéér die wêreldtitel teen meer as 38 pare opgeraap.
Vanjaar is die negende jaar wat die Internasionale Parespelkompetisie in Namibië aangebied word. Die 2024 Wêreldfinaal word aan die einde van September in Tenerife op die Kanariese Eilande gehou.
[email protected]