Oudhaker Isaacs (50) oorlede

Rugby
Andrew Poolman
Philippus Isaacs, jarelange haker vir Reho Falcon-rugbyklub waarvan hyself een van die stigterslede was, is Maandag ná ’n stryd teen kanker van die dikderm op die ouderdom van 50 jaar oorlede.
Isaacs het tussen 2000 en 2005 ook agt toetse vir Namibië gespeel, insluitend sewe waarin hy in die beginspan was. Hy was ook ’n lid van die rampspoedige Wêreldbeker-veldtog onder afrigter Dave Waterston in 2003 in Australië, waar hy onder meer as plaasvervanger in die rekordnederlaag met 142-0 teen die Wallabies in Adelaide opgestuur is.
Op klubvlak was Isaacs ’n staatmaker soos min vir Reho Falcon en hy het tot op 42-jarige leeftyd steeds in die swart trui uitgedraf wanneer op sy nommer gedruk is.
Sy neef Eben Izaacs, ook ’n gewese Namibiese rugbyspeler in twee Wêreldbekers (1999 en 2003), sê Isaacs was een van die stigterslede van Reho Falcon, tesame met Ronaldo Pedro en die broers Cliff Loubser en Gerald Loubser.
Isaacs, met die bynaam Thai, was fisiek nooit een van die grootste hakers nie, maar Izaacs onthou spesifiek sy neef se debuuttoets in Julie 2000 teen Zimbabwe in Harare.
“Fanna Lambert het omtrent ná 20 minute ’n rooi kaart gekry en Philippus moes toe na loskopstut skuif terwyl ond sid res van die wedstryd met 14 man gespeel het. Namibië het nogtans met 31-26 gewen.”
Vir sy laaste toets in 2005 – gedurende ’n hoogs onstuimige periode vir plaaslike rugby – is hy as vir die enigste keer as die nasionale kaptein aangewys vir ’n wegtoets teen Marokko, wat in Casablanca die verswakte Namibiese span met 49-0 afgeransel het.
Vir Reho Falcon was Isaacs onder meer in die spelersgroepe wat die klub se enigste twee titels in die Namibië Rugby-unie se premierliga gewen het. Falcon het in 2007 vir Wanderers met 34-26 geklop en vier jaar later was hulle weer in die finaal vir ’n geskiedkundige enigste eindstryd teen die dorp se ander klub, Rehoboth-rugbyklub, waarin Falcon danksy Howard Titus se tweede skepdoel in die doodsnikke met 21-19 gewen het.
Isaacs word oorleef deur sy vrou Nicolene en twee dogters, Thailene en Anouise.