Padbotsing eis lewe van rugbystut Graham April

Rugby
Die gewilde Unam-speler het te vroeg heengegaan, maar sal nooit vergeet word nie.
Andrew Poolman

Die Namibiese rugbygemeenskap is Vrydag geruk deur die afsterwe van Graham Lee April (30), die gewilde stut van Unam-rugbyklub met die bynaam Gummy, in 'n padongeluk op die B2-hoofpad sowat 10 km buite Usakos in die rigting van Karibib.

Drie voertuie was omstreeks 07:00 in die ongeluk betrokke, het die Namibiese polisie in die Erongostreek bevestig. Volgens hul verslag het een sedanvoertuig na bewering verbygesteek toe dit reg van voor gebots het met die voertuig wat April bestuur het. Hy het op die toneel gesterf.

“In die ander voertuig was vier passasiers en 'n bestuurder wat veelvuldige beserings opgedoen het en na die hospitaal geneem is. Die derde voertuig was effens beskadig en met geen ernstige beserings vir die insittendes nie.”

Die polisie se ondersoek van ‘n saak van strafbare manslag en roekelose bestuur duur voort.

Op Unam-rugbyklub se sosiale media het hoofafrigter David Philander geplaas: “Vandag is 'n dag wat vir altyd onthou sal word. Graham was 'n ware vriend vir vele, 'n seun, 'n broer, 'n lojale steunpilaar van hierdie klub en 'n ongelooflike mens.

“Sy tyd saam met ons het ongelukkig tot 'n einde gekom en hy keer nou terug om sy plek tussen die engele in te neem.

“Ons sal jou herinneringe saamdra solank God dit toelaat. Mag ons vrede en begrip vind in God se planne.

“Ons meegevoel aan die April- en die breër familie. Ons staan saam met julle gedurende hierdie tyd.

“Rus sag, ou grote. Jy sal gemis word.”

Windhoek Hoërskool het in hul sosiale media gesê: “Graham se passie vir die spel, sy sterk karakter en sy lewendige gees sal onthou word deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. Sy nalatenskap strek veel verder as die veld – in die lewens wat hy aangeraak het, die vriendskappe wat hy gebou het en die voorbeeld wat hy gestel het.

“Ons innige meegevoel gaan uit na die April-familie gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd, veral na sy suster Jamie-Lee wat 'n gerespekteerde lid van ons WHS-personeel is.

“As 'n skoolgemeenskap staan ons saam met julle in ondersteuning, krag en gebed. Graham het te vroeg heengegaan, maar sal nooit vergeet word nie. Mag sy siel in ewige vrede rus.”

• April is vir Namibië se span vir die Wêreldrugby Onder-20 Trofee-toernooie in 2014 in Hongkong en 2015 in Portugal gekies, nadat hy tevore vir Windhoek Hoërskool uitgeblink het.

Hy het meestal as 'n vaskopstut gespeel en het ook bygedra tot Unam se historiese NRU premierliga-seisoene wat hul eerste titels van 2015 tot 2017 opgelewer het.

In 2019 het April die Welwitschias in ‘n paar wedstryde in die Suid-Afrikaanse provinsiale SuperSport-uitdaagreeks verteenwoordig.

In die 2026-seisoen het hy in albei Unam se twee wedstryde sover in die NRU premierliga gespeel.

Sport Wrap en die NMH-groep betuig opregte meegevoel aan die familie en vriende.