Plek in eindstryd sal hewig betwis word
Twee bepalende wedstryde is in die vooruitsig met Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe se krieketspanne wat sake moet uitspook om die twee finaliste vir Sondag se eindstryd van die FNB T20 internasionale driehoekige toernooi te haal.
Die Proteas sal vandag hoogs gemotiveerd wees om die houvas wat die Namibiese FNB Eagles met ‘n 2-0 rekord in hul vorige twee T20-ontmoetings verkry het, te begin afskud. Die wedstryd begin 14:00 in die FNB Namibië-krieketstadion.
Vrydagmiddag sal die uitslag tussen Namibië en die Chevrons van Zimbabwe ook die finale puntestand bepaal, ná hul dramatiese eerste ontmoeting vandeesweek waarin Zimbabwe met vyf lopies deurgeskraap het om sy kanse lewendig te hou.
Die Suid-Afrikaners was Dinsdag op die oorlogspad in hul oorwinning met 43 lopies teen Zimbabwe. Lhuan-dre Pretorius is net ses lopies kort van sy eerste internasionale T20-honderdtal uitgehaal (94 van 51 balle; 12 viere en drie sesse) en het ‘n groot invloed gehad wat hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg het.
Sy 86-lopievennootskap met Dewald Brevis (41 van 27 balle; 2x4 3x6) het die Proteas tot op 154/2 ná 15.2 boulbeurte gebring en hoewel die daaropvolgende kolwers nie maksimaal munt kon slaan nie, was die totaal genoeg vir ‘n oorwinning.
Die Zimbabwe-kaptein Sikandar Raza (45 van 33 balle), nommer tien Newman Nyamhuri (27 van 25 balle) en nommer drie Innocent Kaia (18 van 11 balle) was die enigste ligpunte in hul kolfbeurt.
Vir Suid-Afrika het hul kaptein Bjorn Fortuin met sy draaiboulwerk 4/24 in 3.4 boulbeurte platgetrek. Die linkerarm-langeraat Duan Jansen was ook doeltreffend as naatbouler met 3/21 in 4 boulbeurte.
Kapteins aan die woord
Bjorn Fortuin het gesê hy voel tevrede met die vertoning. “Gegewe die standaarde wat ons vir onsself stel, is daar uiteraard aspekte waaraan ons wil skaaf.
“Ons was aan die einde effens slordig met die bal en wou meer bereik met die kolf, maar ek het geleer om geen oorwinning as vanselfsprekend te aanvaar nie. Dit was goed om te sien hoe boulers op verskillende tye na vore tree om paaltjies te neem.
“Ons streef nie eintlik na individuele prestasies nie; ons soek oorwinnings vir die span, maar dit was lekker om op dié manier (met vier paaltjies) by te dra.
“Ons wil natuurlik met selfvertroue die ernstige deel van die reeks betree, en 'n goeie vertoning teen Namibië sal dit bewerkstellig.”
Sy eweknie Sikandar Raza: “Ek reken ons moet ons volgende wedstryd wen, en Suid-Afrika moet teen Namibië wen; dan sal die prentjie duidelik wees. Alles is nie verlore nie.
“Die telkaart vertel ‘n storie, maar die kolwers het 'n nuwe ingesteldheid. Ek dink ons het die slotfase van die beurt goed hanteer teen kolwers wat reeds ingespeel was. Daardie een boulbeurt van Wessly Madhevere was besonders. Die manier hoe die snelboulers die laaste boulbeurte kon afsluit sonder (die afwesige) Blessing (Muzarabani), was ook spesiaal.
“Wat kolfwerk betref, is daar nog aspekte waarop verbeter moet word. Indien ons nog paaltjies oor gehad het, kon ons veel nader aan die wenstreep gekom het. Ons moet saamstaan en effens slimmer speel, maar steeds positief, dan sal die gety wel draai.”
Individuele voorlopers in die reeks
Meeste lopies: 1 Dewald Brevis (RSA) 191 in drie kolfbeurte; 2 Lhuan-dre Pretorius (RSA) 125 in drie kolfbeurte. 3 Jan Frylinck (Namibië) 82 in twee kolfbeurte. 4 Brian Bennett (Zimbabwe) 79 in drie kolfbeurte.
Meeste paaltjies: 1 Duan Jansen (RSA) agt paaltjies in drie wedstryde; 2 Bjorn Fortuin (RSA) sewe paaltjies in drie wedstryde; 3 Prenelan Subrayen (RSA) en Brad Evans (Zimbabwe) elk ses paaltjies in drie wedstryde; 5 Gerhard Erasmus en JJ Smit (beide Namibië) elk vier paaltjies in twee wedstryde.
Hoogste kolftelling: 1 Lhuan-dre Pretorius 94 teen Zimbabwe. 2 Dewald Brevis 75 nie uit nie teen Zimbabwe. 3 Dewald Brevis 75 teen Namibië. 4 Jan Frylinck (Namibië) 60 teen Suid-Afrika. 5 Ryan Burl (Zimbabwe) 57 nie uit nie teen Namibië. 6 Alexander Volschenk (Namibië) 56 teen Zimbabwe.
Beste boulsyfers: 1 Bjorn Fortuin 4/24 in 3.4 bb (teen Zim); 2 Wessly Madhevere 3/20 in 3 bb (teen RSA); 3 Duan Jansen 3/21 in 4 (teen Zim); 4 Ruben Trumpelmann 3/24 (teen RSA).


