Puik seges vir Namibiese spanne in Paraguay

Inlynhokkie
By die wêreldkampioenskap van die sport het die Namibiërs sover uiters kompeterend gevaar.
Andrew Poolman

Die eerste naweek van die World Skate Games in Asuncion, die hoofstad van Paraguay, het reeds belowende vertonings deur die twee Namibiese inlynhokkiespanne opgelewer.

Namibië word in beide die junior mans- en senior vrouekompetisies verteenwoordig. Later vandeesmaand sal die senior mans na dieselfde bestemming reis wanneer hul toernooi geskeduleer is.

Die junior mans onder kapteinskap van Abe van der Merwe het sake Saterdag afgeskop teen Spanje, met die eerste helfte wat ‘n behoorlike ontnugtering was toe Spanje gewys het waarom hulle nommer twee op die wêreldranglys is.

Vanaf die rustydtelling van 8-0 het die Namibiërs egter hul ritme begin vind en by die speltempo begin aanpas om die tweede helfte net met 4-3 te verloor (eindtelling 3-12). Doele is deur Abe van der Merwe, Max Ihms, Sascha Guttzeit en Vigo Bajorat behaal.

• Wedstryd twee teen die Verenigde State van Amerika was ‘n aksiebelaaide stryd wat uiteindelik met 1-0 deur Namibië gewen is.’

‘n Verstommende vertoning is deur die Namibiese doelwagter Hadrian du Toit gelewer, wat nie ‘n enkele van die 42 skote van die VSA op sy doelkas deurgelaat het nie.

Aan die ander kant van die baan het Taneka Shilongo die deurslaggewende deurbraak met ‘n doel vir Namibië behaal. In die hewige stryd teen die Amerikaners is doelwagter Du Toit egter welverdiend as speler van die wedstryd bekroon.

• Later Sondag het Namibië se tweede wedstryd vir die dag voorgelê, nadat dit vanweë fratsweer uitgestel moes word toe die binnenshuise ysbaan deur stromende water onspeelbaar gemaak is.

Die voormalige wêreldtitelhouer van 2022, Chinese Taipei, moes in ‘n taktiese wedstryd die stryd teen Namibië gewonne gee (3-4).

Doele deur Abe van der Merwe en Lucca de Azevedo het Namibië met 2-0 voor geplaas, voor die Asiate twee doele bewerkstellig het om sake gelykop te maak.

Vigo Bajorat se doel het Namibië weer laat voorloop, en hoewel Chinese Taipei opnuut met ‘n treffer vorendag gekom het, was dit die speler van die wedstryd Bajorat wat hulle met ‘n tydige wendoel gesink het.

Waldemar von Lieres is as doelwagter vir Namibië uitgesonder, terwyl onsekerheid tans oor Sascha Guttzeit vanweë ‘n besering heers.

 

VROUE

Die vrouespan het weggespring met ‘n dramatiese oorwinning met 3-2 teen die Amerikaners.

Die kaptein Christine Röttcher, wat reeds in vorige internasionale toernooie haar vernuf as ‘n doelskieter bewys het, het twee doele behaal, insluitend die wendoel in beseringstyd.

Leighzéne Coetzee het ook met een doel getref en het bygedra tot Röttcher se eerste treffer, toe sy besit van die skyf afgeneem het.

Die Amerikaanse vrouespan het sedert 2016 net vier internasionale wedstryde verloor. Die wedstrydplan is goed uitgevoer om van die begin af aggressief aan te val, wat die Namibiërs rustyd met 2-0 laat voorloop het, ná 16 skote op die VSA-doelkas teenoor ses van die opponente.

Die Namibiërs moes egter kophou ná die verlies van Lana Bajorat weens harde kontak wat haar vir sommige van die volgende wedstryde buite rekening kan laat. Die hoop is dat sy terug op haar pos vir die uitklopfase kan wees.

Die vertoning van Michelle Wirtz as Namibiese doelwagter, wat 93.3 persent sukses behaal het teen die 30 skote van die Amerikaanse aanvallers, het haar die toekenning as speler van die wedstryd besorg.

• Wedstryd twee was ‘n totale oorheersing vir Namibië (19-0) teen Chili,met nege doele deur Christine Röttcher.

Leighzené Coetzee (ses), Christine Gerber (twee), Danielle Dobberstein (een) en die speler van die wedstryd Vaike Wölbling (een) het die ander Namibiese doele afgerond.