Sages se jaar op hoë noot afgesluit
Die 41ste FNB Sages-intertak gholftoernooi het die afgelope naweek by die Rössmund-klub buite Swakopmund ten einde geloop. Die finale prysuitdeling en dinee is deur meer as 100 spelers, borge, gades, vennote en vriende bygewoon.
Meer as 70 gholfspelers was daagliks in drie afdelings op die baan. Die bykans weeklange toernooi is deur gunstige weer en kameraadskap gekenmerk.
Die spelers is beloon vir hul daaglikse pogings danksy die steun van die borge, FNB Namibia, W&B Building Supplies, dr. Dean Kock, Swakopmund Super Spar/Tops en Food Lovers Market, wat ’n toernooi van hierdie omvang moontlik help maak het.
Pryse kon ook daagliks met voëltjie-tellings op syfer-3 putjies, asook met houe naaste aan die pen ingepalm word.
Die Namibië Sages 2026 merietelys-toekenning, geborg deur Food Lovers Market (Swakopmund), is aan Willie van Zyl van Walvisbaai toegeken, met ’n prys geborg deur die Pro Shop. Die toekenning is deur die inkomende voorsitter van Sages Namibië, Jurie Engelbrecht (Tsumeb), oorhandig.
Spesiale pryse is toegeken aan: Veteraan met die beste gemiddeld – Jan van Wyk (35.75); vrouespeler met die beste daaglikse gemiddeld – Mari Hoon (37.5); beste vrouespeler van die week (binneland) – Natasha Louw (Windhoek). Gerhard Pool (Mosselbaai) het ook erkenning vir sy bywoning uit Suid-Afrika ontvang.
Charmaine Mberira, takbestuurder van FNB Swakopmund, het namens die bank pryse oorhandig.
Algehele individuele wenners (pryse geborg deur FNB Namibia)
A-afdeling: 1 Des Benson (150 punte); 2 Jan van Wyk (Windhoek, 143, wen op uittel teen Tienie de Wet van Walvisbaai).
B-afdeling: 1 Hennie Grobler (Hentiesbaai, 144). 2 Achmet Abrahams (Rössmund, 140, uittel), 3 René Bosman (Walvisbaai, 140).
C-afdeling: 1 Wiebke Frey (156); 2 Dirk Schuler (144); 3 Rina Knight.
Spanwenners 2026 (pryse geborg deur Tops en FNB:
1 Walvisbaai (Tienie de Wet, Wilma de Wet, Willie van Zyl, René Bosman) 432 punte,
2 Rössmund Seniors (Tim Botha, Achmet Abrahams, Tienie van Rensburg, Dirk Schuler): 426 punte.
3 Kestrels (Des Benson, George Murasiki, John Horne, Fred Bossé) 423 punte.


