Shikongo terug by Eagles ná klubvertoning

Krieket
Die gedugte Ierland-span het gister die eerste wedstryd van die internasionale eendagreeks teen Namibië op gemaklike wyse beklink.
Andrew Poolman

Die terugkeer van die snelbouler Ben Shikongo na die Namibiese FNB Eagles vir die eendagreeks van vyf wedstryde teen die gedugte besoekende Ierland – wat gister begin het – het die seën van sy ervare klubmaat, Nicol Loftie-Eaton, ontvang.

Weens verskeie beserings het die 26-jarige Shikongo die afgelope maande min krieket vir die nasionale span gespeel, maar sal hoopvol wees dat hy soos tevore tot die FNB Eagles se pad vorentoe kan bydra.

Shikongo het verlede Saterdag suksesvol teruggekeer vir sy klub, CCD Tigers, in Krieket Namibië se premierliga-eendagkompetisie.

Ten spyte van ’n onderbreking weens reën, het die span ’n oorwinning van vier lopies teen United behaal (bepaal volgens die DLS-metode).

Shikongo het 2/17 in sy agt boulbeurte geneem (insluitend 38 leë balle waarvan geen lopies aangeteken is nie), terwyl United – wat eerste op hul tuisveld gekolf het – 259 vir agt in hul 50 boulbeurte aangeteken het.

Sy boulskof was verreweg die mees ekonomiese vir sy span, alhoewel Mauritius Ngupita (1/54 uit 8), Nicol Loftie-Eaton (1/38 uit 8), Simon Shikongo (2/54 uit 10) en JW Junius (2/22 uit 10) ook goed presteer het as ’n bouleenheid.

Vir United het die openingskolwer WP Myburgh uitgeblink met ’n stewige honderdtal (100 lopies van 142 balle; agt viere).

Myburgh het sy openingsvennoot, Gerhard Janse van Rensburg (8), vroeg verloor toe hy deur Ben Shikongo uitgeboul is. Kolwer nommer drie, die jong Michael Müller (58 van 38 balle; 6 viere, 3 sesse), het egter ’n aggressiewe kolfbeurt gespeel, en bygedra tot ‘n 103-vennootskap saam met Myburgh.

Kaptein Erich von Molendorff het 37 lopies (63 balle) tot United se totaal van 259 vir agt in 50 boulbeurte bygedra.

Met reënweer wat gedreig het, het CCD Tigers hul kolwers in die middel algaande op die hoogte gehou van wat hul totaal aan die einde van elke boulbeurt moes wees indien die uitslag van die DLS-metode sou afhang, het Loftie-Eaton agterna vertel.

CCD Tigers het hul topvier kolwers Josue Celliers (20 van 34 balle), kaptein Joshuan Julius (29 van 37 balle), Ramon Wilmot (28 van 60 balle) en Simon Shikongo (31 van 51 balle) op deurslaggewende stadiums verloor.

Loftie-Eaton (58 nie uit nie van 31 balle) het egter sewe viere en twee sesse geslaan – met JW Junius (10 nie uit nie van 17 balle) saam met hom tioe reën die wedstryd beëindig het.

Die Tigers se telling in daardie stadium (192 vir vyf ná 39.4 boulbeurte) was genoeg om met vier lopies voor die DLS-teiken te wees.

Loftie-Eaton sê: “10 gekort om voor te kom met die 39ste over (laaste volle over gewees) toe kry ons dit darem.

“JW Junius (14 jaar oud) se premierliga-debuut was nogal indrukwekkend – twee paaltjies in sy 10 boulbeurte en daarna ‘n goeie vennootskap met my om die wedstryd te wen. Ben Shikongo se boulwerk was ook baie indrukwekkend vir sy eerste wedstryd in omtrent vyf of ses maande.”

• Ben Shikongo en WP Myburgh was byvoegings tot die FNB Eagles-spelersgroep vir die Ierland-reeks.

Die res van die Eagles-groep is Gerhard Erasmus (kaptein), JC Balt, Jack Brassell, Zane Green, Max Heingo, Malan Kruger, Nicol Loftie-Eaton, Jan Frylinck, Bernard Scholtz,Louren Steenkamp, JJ Smit, Waldo Smith, Junior Taanyanda, Ruben Trumpelmann, Alex Volschenk en Michael van Lingen.

 

IERLAND SLAAN EERSTE SLAG

Ierland het gister by die HP-ovaal die eerste eendagwedstryd teen Namibië met 55 lopies gewen.

Gerhard Erasmus het die Iere ingestuur om eerste te kolf, waarna hulle 229 vir nege in hul 50 boulbeurte opgestel het.

Hul ervare kaptein Paul Stirling het ‘nn vyftigtal (56 van 71n balle; 8x4 1x6) aangeteken, met steun van Cade Carmichael (45 van 80 balle4x4).

Vir Namibië het Nicol Loftie-Eaton se draaiballe vier paaltjies vir 36 lopies in nege boulbeurte opgelewer. JJ Smit het 2/47 in tien geneem en die linkerarm-draaier Bernard Scholtz het ‘n ekonomiese tien boulbeurte (1/37) afgestuur.

In die Eagles se lopiejaagtog het die Iere gereeld deurbrake gemaak om die tuisspan se vordering te kniehalter. Gavin Hoey was aan die stuur met 3/29 wat die paaltjies van Louren Steenkamp (26), Jan Frylinck (9) en Waldo Smith (6) ingesluit het.

Michael van Lingen (agter die paaltjies gevang, vir 23 van 22 balle) en Gerhard Erasmus (22 van 31 balle) kon hulle nie behoorlik ingegrawe kry nie, terwyl Zane Green (4), Loftie-Eaton (uitgehardloop vir 9) en JJ Smit (9) ook nie veel on bydra nie.

Op nommer agt het Ruben Trumpelmann sy tweede ODI-vyftigtal aangeteken (50 van 43 balle; vier viere en drie sesse), maar op 174 was die Namibiërs almal uitgeboul (37.5 bb).

Die tweede ODI word Saterdag by die FNB Namibië-krieketstadion gespeel (09:30).