Shilongo en Westley wenners op Oranjemund

Gholf
Andrew Poolman
Fabianus Shilongo en Rose Westley is as wenners van die tweede toernooi van die 2025 Nedbank for Good-reeks by die Oranjemund-gholfklub laas Saterdag bekroon.
In die manskompetisie was Shilongo met 39 punte die wenner voor Zander Loxton, wat met 38 punte tweede was.
Die derde plek is ingeneem deur Axel Bezuidenhout (36 punte), wat op uittel voor Terrance Holland (36 punte, vierde) geplaas is.
In die vroue-afdeling het Westley met 50 punte voor die tweede geplaaste Niki Joubert (47) en Lanie van Rooyen (31, derde) klaargemaak.
Die kompetisie in Oranjemund volg op die eerste toernooi van die 2025 Nedbank for Good-reeks wat in Maart by Omeya aangebied is.
Die derde rondte vind op Saterdag, 10 Mei in Gobabis plaas.

Groei en vernuwing
Die organiseerder van die reeks, Dan Zwiebel, wat ook die eienaar en stigter van DZ Golf is, het sy opgewondenheid oor gholf se groei in die suide van die land uitgespreek.
“Ons sien 'n geleidelike toename in mense wat gholf speel in die klein dorpies. Wat ons hier sien, is groei in getalle en mededinging tussen die spelers. Alles het goed verloop ten spyte van die oostewinde in die oggend. Dit was 'n prettige maar mededingende dag op die baan.”
Hy het die borge geprys en gesê sonder hulle sal die reeks nie aangebied kan word nie. Zwiebel sê die onlangs ontwikkelingswerk deur die Oranjemund-gholfklub lewer dividende, wat tot die 100 persent groei in die getal vrouespelers binne een jaar bygedra het.
Vanjaar het die Nedbank for Good-reeks nog drie klubs vir toernooie ingesluit, naamlik Outjo, Okahandja en Grootfontein, wat die totale getal bane op 13 te staan bring.:
Zwiebel sê: “Ons sal die noordelike, sentrale, suidelike en kus se rondtes afhandel voor die eindtoernooi by Omeya. Ons moet altyd aanhou innoveer, want so 'n reeks moet pasop om nie te stagneer nie.”
Vanaf Gobabis beweeg die reeks op 17 Mei na Okahandja, dan op 21 Junie na Mariental voordat dit in Julie noordwaarts na Oshakati, Tsumeb en Grootfontein gaan.
In Augustus wag toernooie op Outjo, Hentiesbaai, Swakopmund en Walvisbaai, voordat Windhoek-gholfklub in September rondte 12 aanbied.
Die eindtoernooi vind op 3 Oktober in Omeya plaas.

Wenners nog jonk in die sport
Na sy oorwinning het Shilongo ge sê hy is tevrede en reken die uitslag was vir hom 'n groot prestasie.
“Ek het in 2022 begin gholf speel; hierdie is my eerste oorwinning. Dit was 'n goed georganiseerde toernooi wat baie mededingend was, tesame met warm weerstoestande.”
Shilongo het bygevoeg dat hy die kus- en noordelike bene van die reeks sal teiken.
Intussen het Westley, wat eers in September 2024 gholf begin speel het, hulde gebring aan Joubert en haar mede-gholfspeler Yolanda Pienaar (wat vierde was met 'n telling van 29 punte) en gesê die twee is haar mentors.
“Joubert het my verlede jaar aan die sport bekendgestel en my alles geleer wat ek van gholf weet. Hierdie oorwinning is ewe veel hare as myne. In die algemeen is ek oorweldig om te wen. Ek het nie verwag om te wen nie. Dit was maar my tweede mededingende toernooi as 'n nuwe lid van hierdie gholfklub.”
De weer was nogal warm, het sy bygevoeg, maar die vroue het mekaar voortdurend aangemoedig, wat die ervaring pret en genotvol gemaak het.
Westley sê sy is opgewonde oor die res van die jaar. Indien die tyd en hulpbronne dit toelaat, sal sy aan nog meer van die landswye Nedbank for Good Series-kompetisies deelneem.

Bank loof organiseerders
Nedbank Namibië se uitvoerende hoof vir kleinhandel- en besigheidsbankwese, JG van Graan, het die organiseerders geloof wat die afgelope ses jaar uitstekende werk doen om 'n geleentheid te organiseer waarvan die opbrengs maatskaplike kwessies bevorder wat gewone Namibiërs raak.
“By Nedbank Namibië erken ons dat sport 'n kragtige katalisator is vir groei, geleenthede en nasionale trots. Ons verbintenis strek oor verskeie kodes, insluitend fietsry, sokker, padwedlope, vlugbal, krieket en natuurlik gholf.
“As kundiges op die gebied van geld wat goeie dinge doen, sien ons die voortsetting van hierdie reeks as 'n belangrike belegging in Namibië se toekoms, waardeur ons 'n platform skep vir sportmense om uit te blink en terselfdertyd by te dra tot 'n opbouende maatskaplike saak.”
Die gholfreeks, tevore bekend as die Nedbank for Autism-reeks, is nou in sy sesde jaar, nadat dit in 2020 afgeskop het.
Vanjaar se opbrengste gaan direk aan Agra ProVision, wie se doel is om onderbediende landbougemeenskappe op te lei en met dienste by te staan.
Medeborge en vennote van die Nedbank for Good-reeks is Autohaus Windhoek, AfricaOnline, Agra, B2Gold, Gondwana Collection, JTC Namibia, King Price, Pupkewitz Megabuild, Vivo Energy, WV Manufacturing en Future Media.