Skeidsregter van die Jaar lewer boodskap
Vir die tweede keer in sy loopbaan is Patrick Esterhuizen die afgelope naweek as Skeidsregter van die Jaar by die jaarlikse Namibiese Sporttoekennings vereer.
Die boksskeidsregter het dié toekenning ook in 2018 ontvang en het beide kere gewen wanneer hy genomineer was. Volgens Boxrec het hy sedert 2018 tot nou reeds in 123 professionele gevegte as skeidsregter of beoordelaar opgetree.
Esterhuizen sê: “Ek wil graag my toekenning opdra aan die hele boksgemeenskap in Namibië — ons professionele en amateurboksers, afrigters, tegniese beamptes, gevegsknopers, administrateurs en elkeen wat voortgaan om tot die ontwikkeling van boks in ons land by te dra, insluitend die ondersteuners.
“Dié toekenning het vir my besondere betekenis, aangesien dit die enigste toekenning was wat die boksgemeenskap vanjaar by die nasionale Sporttoekennings ontvang het. Teen die agtergrond van die omstredenheid rondom die weglating van professionele boksers en afrigters van vanjaar se nominasielys, glo ek dis belangrik dat hierdie erkenning nie bloot as ’n individuele prestasie beskou moet word nie, maar as ’n oomblik van erkenning vir die hele boksfamilie.
“Boks word gebou op die toewyding, opofferings en insette van vele mense, binne en buite die kryt. Elke prestasie in ons sport is te danke aan gesamentlike pogings, en daarom dra ek hierdie toekenning op aan elkeen van julle.
“Ek het dit ook as besonder belangrik beskou om in my aanvaardingstoespraak te beklemtoon dat belegging in en ontwikkeling van sportbeamptes in Namibië van kardinale belang vir die toekoms van sport in ons land is. Ons kan nie verwag dat sportstandaarde moet verbeter sonder om te belê in die mense wat verantwoordelik is om regverdigheid, professionaliteit, integriteit en die behoorlike bestuur van kompetisies te verseker nie.
“Skeidsregters, beoordelaars, tegniese beamptes en ander sportadministrateurs verdien geleenthede vir opleiding, ontwikkeling, erkenning en internasionale blootstelling. Die ontwikkeling van atlete en afrigters moet hand aan hand gaan met die ontwikkeling van sportbeamptes.
“’n Sportsoort is net so sterk soos die mense wat sy standaarde handhaaf.
“Ek aanvaar hierdie toekenning met nederigheid, maar ook met ’n hernude verbintenis om voort te gaan om boks te dien en ’n bydrae tot die ontwikkeling van sport in Namibië te lewer.
“Aan die hele boksfamilie in ons land Namibië: Hierdie toekenning behoort ewe veel aan julle as aan my.”
Hy voeg by: “Ek hoop regtig die Boksbeheerraad en die Sportkommissie kan tot ’n slotsom kom sodat dieselfde nie in toekomstige jare sal gebeur nie. Daar is genoeg tyd om die verskille voor 2027 se toekennings uit te klaar. Ons boksers en afrigters doen baie wat verdien om minstens genomineer te word.”
Verskeie rolle
Afgesien van sy affiliëring met die Wêreldboksorganisasie en die Internationale Boksfederasie vir wie hy in hoëprofiel gevegte as beampte optree, lewer Esterhuizen ook insette in ander gevegsporte.
“Die Namibia Full Contact Martial Arts Organization het my vroeg vanjaar gevra om ’n toesighouer vir hul eerste toernooi te wees. Ek is ook ’n beampte by gemengde gevegsport (MMA) en het verskeie werkswinkels gedoen en is besig om nou volle sertifisering te kry. Sertifisering in MMA is ‘n omvattende proses met verskeie werkswinkels wat voltooi en ondervinding wat opgedoen moet word voordat jy ten volle gesertifiseer en gelisensieer kan word.
“Skeidsregterskap lê baie na aan my hart, want ons hou bykans letterlik die boksers en vegters se lewe in ons hande. Daarom moet die reëls in enige gevegsport ten volle gehandhaaf word, en die nodige werkskole moet deurlopend gehandhaaf word om altyd op jou tone te wees.”
Esterhuizen is ook betrokke by ’n mentorskapprogram van Legends Boxing Academy van Rehoboth, wat streef om kinders van die straat af te hou deur hulle boks- en lewenslesse te gee.


