Skouspel in Kameroen: Waar is Beatrice en Daniel dan?

Atletiek
Die vensterperiode vir atlete om vir Parys 2024 hand op te steek, verstryk om middernag op 30 Junie.
Tielman Van Lill
Atletiek Namibië het Vrydag sy atletiekspan vir die senior Afrika-kampioenskap aangekondig wat van 21 tot 26 Junie by die Reunification-stadion in Douala, Kameroen, aangebied word.
Dit sal hopelik die ideale laaste geleentheid vir Namibiese en ander Afrika-atlete wees om vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, te kwalifiseer.
Wenkbroue het egter gelig oor die feit dat Beatrice Masilingi, wat Saterdag aan haar eerste amptelike kompetisie sedert haar terugkeer deelgeneem het, nie in die span is nie.
Dit sal ‘n skande wees as Masilingi nie vir Douala oorweeg word nie.
Geen mansatleet is vir die 5 000 of 10 000 meter by die span ingesluit nie. Die naam van Daniel Paulus kom onmiddellik in die gedagtes op. Paulus het onlangs die nasionale 10-kilometer padrekord van Luketz Swartbooi verbeter wat vir 30 jaar in die rekordboeke gepryk het.
Paulus moet onderskeidelik die 5 000 en 10 000 in 13 minute 5 sekondes en 27 minute aflê om vir Parys op die vliegtuig te klim. Sy nuwe nasionale 10 km-rekord het hy met 27:46 neergepen. Dit lyk beslis binne sy vermoë om vir die 10 000 hand op te steek.
Nog nie een Namibiese baan- óf veldatleet kon die afgelope ruk vir die globale spogstuk kwalifiseer nie. Volgens Wêreldatletiek het Namibië se marathon-veteraan en enigste viermalige Olimpiër, Helalia Johannes (43), ‘n uitnodiging op grond van universele kwalifikasie verdien (Qualified by Universality Place).
Soos gister in Sport Wrap berig was, het Masilingi en Christine Mboma Saterdag mekaar in die 200 meter van Atletiek Namibië se Khomas-kampioenskap die stryd aangesê en onderskeidelik 23.46 en 23.45 sekondes aangeteken.
Hul tye lyk op papier nie ver van die Olimpiese kwalifiserende vereiste van 22.57 nie, maar op die baan is die verskil van 0.88 sekondes wat hulle moet inhaal ‘n geweldige taak om binne die gegewe tydperk te vermag.
Beide atlete het Namibië en die ganse wêreld in die verlede verras. Dalk is dit nie te laat vir ‘n nuwe wonderwerk deur hulle nie.
Mboma het ook die 100 gehardloop en 11.80 behaal. Die kwalifiserende standaard vir die Spele is ‘n stywe 11.07 sekondes.
‘n Ander moontlikheid is Gilbert Hainuca. Hopelik kan hy in Douala die kwalifiserende 100 m-standaard van tien sekondes bereik. Die 20.16 in die 200 is ‘n ewe harde neut om te kraak. Hainuca het by die Namibiese kampioenskap onderskeidelik 20.82 en 9.88 vir die 200 en 100 aangeteken. Die wind van agter was ongelukkig te sterk en sy 100-tyd word nie erken om vir Parys te kwalifiseer nie.
Met onlangse beserings is dit te betwyfel of die verspringer Chenoult Lionel Coetzee sommer gou weer 8.27 meter (sy nasionale rekord van April 2023) gaan haal. Vir Parys moet hy juis minstens só ver deur die lug seil.
By die vorige Afrika-kampioenskap (2022 in Mauritius) het die diskusgooier Ryan Williams (nou 24 jaar oud) die land se enigste medalje (brons) gewen.

Die Namibiese span na Kameroen:
Vroue (9)
Sadé de Sousa (100 m, 4x100 m-aflos).
Christine Mboma (100 m, 200 m, 4x100 m).
Ndawana Haitembu (100 m, 200 m, 4x100 m).
Jade Nangula (200 m, 4x100 m).
Johanna Ludgerus (4x100 m).
Tuuliki Angala (400m, 800 m, 4x400 m gemengde aflos).
Katjazoo Kambiri (400 m, 4x100 m, 4x400 m gemengde aflos).
Napuumue Hengari (400 m, 4x400 m gemeng)
Hanganeni Fikunawa (4x100 m).

Mans (16)
Gilbert Hainuca (100 m, 200 m, 4x100 m).
Gregor Appols (100 m, 4x100 m).
Hatago Murere (100 m, 200 m, 4x100 m).
Elvis Gaseb (200m, 400m, 4x100m, 4x400m).
Ivan Danny Geldenhuys (400m, 4x400m).
Elton //Hoeseb (400m, 4x100m, 4x400).
David Dam (800 m).
André Retief (400 m-hekkies, 4x400 m).
Lionel Coetzee (verspring).
Roger Haitengi (driesprong).
Coenraad Kuhn (gewigstoot).
Ryan Williams (diskusgooi).
Onesmus Nekundi (4x100 m).
Mahmad Bock (4x400 m, 4x400 m gemengde aflos).
Ezra Nakale (4x400 m, 4x400 m gemengde aflos).
Tjimatjitua Kuhanga (4x400 m gemengde aflos).
[email protected]