Spoedvrate op water is aan die werk
NIPA (Namibia Inflatable Powerboat Association) het ‘n suksesvolle naweek by die Von Bachdam aangebied.
Die ervare “rubberduckers” was vir die eerste keer sedert 2008 weer bymekaar om saam sopnat te raak.
Met vyf bote betrokke en nog agt wat tans gebou word, is daar opgewondenheid oor die planne om dié energieke en adrenaliengedrewe sport weer sterk op die been te bring.
Spanne het van die ou veterane en jongelinge gekombineer in die strewe om die sport se pret te beleef en terselfdertyd ondervinding oor te dra.
“Die sport in Namibië is op die oomblik in sy kinderskoene – hoewel dit in die vroeë 2000’s nogal groot was. NIPA se hooffokus is om families en jongmense betrokke te kry om weer die buitelewe te geniet. Dis vir ons almal gesond om bietjie weg te beweeg van die TV- en selfoonskerms,” sê Leon Smith, een van die ervare jaers.
By Von Bachdam het Steyn Fourie en sy skoonsuster Karin uitgestaan en as die wenspan uit die stryd getree.
“Die ontwikkelingsboot was ook daar om die nuwe gesigte te help om met die sport vertroud te raak.
“Ons bied op Saterdag 16 Mei ‘n sosiale byeenkoms op Langstrand aan en hoop om vele mense daar te sien,” sê Smith.
NIPA se jaarprogram is sorgvuldig beplan om in pas met Suid-Afrika se kalender te wees, eerder as botsende datums vir groot byeenkomste te hê. Hiermee word dit vir Namibiese spanne moontlik gemaak om in beide die Suid-Afrikaanse kampioenskap en die Wêreldbeker te gaan meeding, wat onderskeidelik in September en Oktober vanjaar voorlê.
‘n Groot uitdaging later vanjaar sal ook die Trans Agulhas wees – bekend as die langste en taaiste kragbootresies ter wêreld. Spanne van lande oraloor die wêreld ding mee en bied dus ‘n unieke geleentheid om hul vaardighede en uithouvermoë op ‘n internasionale verhoog op die proef te stel.


