Steenbokkies struikel teen vasberade Wanderers

Klubrugby
Andrew Poolman
‘n Seldsame nederlaag vir die Unam Steenbokkies is Saterdag toegedien toe die Wanderers Bokkies hulle met 19-12 in die NRU Vrouebekerfinaal geklop het.
Met rustyd was die twee mededingende spanne op 5-5 gelykop, met onverdoelde drieë deur Unam se flank Emilyn Marais en Wanderers se senter Sadé Eimann.
Unam se kaptein en binnesenter Elzane-Lee Basson is ná rustyd met ‘n geelkaart afgestuur nadat skeidsregter Jacky Mouton ‘n waarskuwing aan die span vir herhaalde professionele oortredings gerig het.
Gedurende die tien minute sonder haar het Wanderers voordeel getrek uit die volgehoue druk met drieë deur slot Astrid van Lill wat van naby oorgedryf het, asook die senter Memory Tjivikua nadat heelagter Joana van Staden die bal na links versprei het.
Op tipiese wyse het die Steenbokkies se heelagter Ivone Kooper vir haarself spasie geskep om kort voor die einde ‘n drie te gaan druk wat Michelle Slinger verdoel het, maar Unam het steeds met sewe punte verloor.
Astrid van Lill is agterna as speler van die wedstryd aangewys nadat sy ‘n deurlopende hoë werktempo gehandhaaf het.
Wanderers se kaptein en losskakel Mandie van Staden, wat ook ‘n gewese kaptein van die nasionale vrouespan is, het agterna gesê die span voel ekstaties oor die uitslag.
“Vandag se wedstryd gaan nie net oor Wanderers wat gewen het nie, maar oor vrouerugby wat vorentoe beweeg, so ons is baie bly. Ons weet die ander spanne is gemotiveerd om terug te kom, maar ons sal ook aanhou werk om te verbeter.”

Troospryse vir Reho Falcon
In die JSB Silver Cup premier-eindstryd het FNB Reho Falcon met N$35 000 weggestap te danke aan ‘n naelskraapse oorwinning (29-28) teen FNB Dolphin se eerstespan (rustyd 17-13).
Dihlen Daries, agtsteman en kaptein van FNB Reho Falcon, het agterna gesê hy is trots op sy span wat karakter gewys het, hoewel ‘n verlies aan konsentrasie en dissipline sake in ‘n stadium vir hulle moeilik gemaak het.
Skeidsregter Zaid Isaacs se geelkaarte vir losskakel Brian Bayer (24ste minuut) en die reserweslotte Thomas Kali (77ste minuut) en Arenzo Isaacs (80ste minuut) het Reho Falcon uitgedun, terwyl Dolphin die stut Ouboer Geinub (vierde minuut geelkaart) en slot Jerome Schumann (rooi kaart, 19de minuut) moes afstaan.
“Ek het eintlik nie woorde nie. Hierdie uitslag beteken baie vir ons klub en vir ons dorp,” het Daries gesê.
“Selfs daardie laaste duikslag op die hoekvlag (deur linkervleuel Jaylon Carew, om te keer dat die Dolphin-senter Walter Johr ‘n lang reguit lopie kon afrond) het gewys ons was honger om die knoop deur te haak.”
Zaino van Wyk, heelagter van Dolphin, was op sy stukke met die skopskoen en het drie strafdoele en twee strafdoele, terwyl losskakel Elmarco Beukes, stut Ouboer Geinub en senter Ronaldo Diergaardt drieë gedruk het.
Een van Reho Falcon se aanskoulike drieë is deur Carew afgerond, ná ‘n lang lopie deur senter JP van Wyk wat uit sy eie kwartgebied ontsnap het. Regtervleuel Matthew van Wyk het twee drieë aangeteken, terwyl die woelige skrumskakel Dillon Kahman van ‘n vinnige tikskop gaan druk het. Heelagter Wesley Haukongo (doelskop en strafdoel), Kahmann (een doelskop) en Carew (een doelskop) het die skopwerk verdeel.
Falcon se agtsteman Saari Uugwanga is as speler van die wedstryd aangewys.
• In die JSB Silver Cup reserwefinaal het Reho Falcon se tweedespan met 25-21 teen Dolphin II gewen en sodoende N$15 000 ingepalm. Die Falcon-vleuel Wayrich Hansen is as speler van die finaal aangewys.

Trofee vir Wanderers II
In die JSB Gold Cup reserwefinaal het Wanderers se tweedespan se oorwinning met tien punte (44-34) teen Kudus II die grootste punteverskil van die dag se vyf eindstryde.
Vir Wanderers, wat rustyd met 19-5 voor was, het die agtsteman en kaptein Johan Lambert, losskakel Wiks Tromp, slot Roché Janzen van Vuuren, vleuel Julian Afrikaner, heelagter Irongwa Atshivudhi en stut Iyambo Tshuuya drieë behaal. Senter SW Kuhn het met een doelskop geslaag en Tromp (speler van die wedstryd) met drie doelskoppe en twee strafdoele, waarvan een uit sy eie halfgebied was.
Kudus II se driedrukkers was agtsteman Henri Rossouw, senter Suramie Kambombo, plaasvervangerflank Virgil Bampton (twee) en flank Jarreth Koning.
Skeidsregter Romario de Koker het in die tweede helfte geelkaarte vir Wanderers se Julian Afrikaner, Mauricio de Koe, Brian Roodt en Clever Dhliwayo asook Kudus se senter Nando Dentlinger uitgehaal.