Sterk verwagting vir WB-kwalifisering vanoggend
Krieket
Die krieketspan van Tanzanië staan vanoggend in die pad van Namibië se ambisie om vir volgende jaar se ICC T20 Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka te kwalifiseer.Alle aanduiders wys in die guns van die FNB Eagles onder kapteinskap van Gerhard Erasmus om teen Tanzanië die knoop deur te haak en die land se vierde opeenvolgende verskyning by die T20 Wêreldbeker te beklink.
Met die aggressiewe styl van krieket waarvoor afrigter Craig Williams se span bekend geword het, wil dit bykans ondenkbaar blyk dat Tanzanië sy verloorrekord in twee vorige internasionale T20’s teen Namibië sal kan omkeer.
By die huidige uitduntoernooi tussen agt Afrika-lande wat in Zimbabwe se hoofstad Harare byeen is, sal twee kwalifiseerders vir die Wêreldbeker bepaal word – wat vandag se twee semifinale van kardinale belang maak.
Namibië met ‘n onoorwonne rekord na die topvier geseil met reuse-oorwinnings teen Kenia (met 136 lopies), teen Nigerië (met 117 lopies) en teen Malawi (met agt paaltjies). Die reuseverskil in hul oorwinnings plaas die Eagles se netto kolftempo tans op 6.556.
Die Oos-Afrikane het die afgelope week teen Uganda (‘n kwalifiseerder vir die 2024 T20 Wêreldbeker in Wes-Indië en die VSA) en teen Botswana gewen, maar het hulle eergister met 113 lopies teen Zimbabwe vasgeloop. Die speler van die wedstryd Brian Bennett (111 van 60 balle) het die Chevrons se totaal tot 221/5 gehelp bult, terwyl Tanzanië vir 108 uitgeboul is.
GIFPYL
Een Tanzanië-speler wat geensins vir Namibië skrik nie, is hul wonderseun Laksh Bakrania, wat eergister 18 jaar oud geword het.
Vandat hy 14 jaar oud was, het Bakrania reeds twee keer (2021 én 2025) bykans manalleen Namibië by onder-19 Wêreldbeker-uitduntoernooie verneder.
In 2021 in Rwanda het Bakrania drie dae ná sy 14de verjaarsdag vyf Namibiese o.19-kolwers laat terugstap (5/28 in 9.3 bb, plus ‘n deurslaggewende uithardloop) om teen alle verwagtinge in Tanzanië met 48 lopies te help wen.
In April vanjaar in Nigerië was Bakrania die kaptein toe Tanzanië vyf uit uit vyf gewen het om vir die o.19 Wêreldbeker in 2026 te kwalifiseer. Veggees en kalmte onder druk op deurslaggewende tye was bestanddele van hul skokoorwinning met 17 lopies teen Namibië.
Vir die Namibiese jongspan onder kaptein Francois du Plessis was laasgenoemde uitslag ‘n besonder bitter pil, omdat Windhoek volgende jaar ‘n venue as Zimbabwe se medegasheer van die o.19 Wêreldbeker sal wees.
In vandeesweek se senior toernooi was Bakrania maar nog bra stil (twee paaltjies in drie wedstryde), maar sy aptyt om skokke teen Namibië te lewer, sal behoorlik in toom gehou moet word.
VANDAG SE BEPALINGS in HARARE
09:30 semifinaal, Namibië FNB Eagles tn Tanzanië.
14:30 semifinaal, Zimbabwe tn Kenia.