Stertwind pootjie Gilbert se 9.86-blitstyd

Atletiek
Drie nasionale rekords en een kwalifisering vir die o.20-wêreldkampioenskap is die naweek gesien.
Tielman Van Lill
Drie nasionale rekords – in die driesprong en hamergooi vir vroue en gewigstoot vir mans – was hoogtepunte van Atletiek Namibië se nasionale senior baan- en veldkampioenskap die afgelope naweek in Windhoek.
Behalwe die drie rekords, het Magano Naseb met 20.95 sekondes in die 200 meterfinaal vir die o.20-wêreldkampioenskap in Lima, Peru, gekwalifiseer. Met die puik tyd in die senior wedloop het hy die silwermedalje ingepalm.
Vrydag se hoogtepunt was die 200 meter-semifinale vir mans en vroue asook die 400-semifinale vir mans en Coenraad Kühn se nasionale rekord in die gewigstoot. Hy het eers Derreck Wiggil se 55-jaaroue rekord van 17.10 meter, wat hyself onlangs geëwenaar het, tot 17.29 m gerek en met sy laaste stoot die gewig 25 cm verder op 17.54 laat val. Die atleet afgerig deur Henk Botha se vordering is ‘n goeie teken.
Annelize Smith het Saterdagoggend stil-stil Nadine van der Merwe se 29-jaaroue nasionale hamergooirekord van 33.24 meter tot 36.03 verbeter. Sy het maar in 2022 met dié tegniese item begin.
Saterdag het die 200-finale, 800 vir mans, verspring en diskusgooi vir mans, 100-semifinale en finale vir beide geslagte, asook die 400-finaal vir mans vir pure plesier gesorg.
‘n Skouspelagtige hoogtepunt was Saterdag in die 100 meter vir mans, toe Gilbert Hainuca gemaklik met 9.86 sekondes gewen en Frank Fredericks se nasionale rekordtyd (1996 in Lausanne) geëwenaar het.
‘n Sterker as toelaatbare wind van agter (4.9 meter per sekonde) het ongelukkig Hainuca se pret bederf om vir die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, te kwalifiseer. Sy tyd sal wel as ‘n uitslag op sy amptelike profiel by Wêreldatletiek aangedui word, maar geen erkenning sal aan hom gegee word vir die ewenaar van Fredericks se rekord nie.
Sover bekend was dit wel die eerste 100 meter manswedloop wat in minder as tien sekondes op Namibiese bodem voltooi is.
Vrydag het Frieda Iithete stoksielalleen teen haarself in die driesprong gekompeteer en haar eie nasionale rekord van 12.11 meter tot 12.30 vergroot.
Ndawana Haitembu het Vrydagnamiddag haar 200-semifinaal in 24.09 gewen, gevolg deur Christine Mboma in 24.34, Johanna Ludgerus 24.72 en Jade Nangula 24.87, terwyl Lahja Ishitile (T11 paralimpiër) 25.70 behaal het.
Mboma het Saterdagoggend die finaal in 24.10 oorheers met Haitembu tweede (24.23) en Nangula derde (24.55). Ishitile was agtste in 26.34 vir haar paralimpiese goue medalje.
By die 200-semifinaal was Hainuca (20.73), Elvis Gaseb (20.80) en Elton Hoeseb (21.17) die vinnigste oor die halwe rondte. Hainuca seëvier in die finaal met 20.82, terwyl Magano Naseb die tweede plek met 20.95 opraap. Gaseb oorskadu Hoeseb net-net in 21.08 met Hoeseb vierde in 21.27.
Die nasionale 400-mansrekordhouer, Mahmad Bock, het nie vir die 400-semifinale aangetree nie. Elvis Gaseb (47.57), Ezra Nakale (47.60), Ryan Clarke (47.90), Dux Lutahezi (48.16) en Elton Hoeseb (48.35) het die vyf toptye behaal.
Gaseb en Hoeseb het in die finaal die krane oopgedraai en onderskeidelik met 45.97 en 46.65 goud en silwer opgeraap. Hoeseb verbeter goed op sy vorige persoonlike beste van 46.96. Tjimatjitua Kuhanga wie maar die sesde vinnigste in die semi’s was (48.75), het derde in 46.70 geëindig.
Die drie vinnigste tye in die 100-uitdunne vir vroue is Saterdagoggend deur Haitembu (11.73), Mboma (11.82) en Ludgerus (11.82) opgestel.
Mboma (11.62) wys sy is op pad terug met goud, gevolg deur Haitembu (11.63) vir silwer met Johanna Ludgerus derde in 11.82. Mboma het beslis die beste uit Haitembu gehaal. Die wind was opnuut doenig van agter teen 4 m/s, wat Wêreldatletiek wettige perk van 2 m/s oortref het.
Ryan Williams, die nasionale diskusgooirekordhouer, kon Saterdagoggend met 56.48 meter nie naby sy rekord van 61.15 meter kom nie. Hy het wel die moeite gedoen om al die pad van Suid-Afrika te reis en sy titel suksesvol te verdedig.
Lionel Chenoult Coetzee het die verspring met 8.10 meter gewen en hoewel sy ondersteuners van hom verwag, moet gemeld word dat hy van ‘n besering sy terugkeer maak.
David Dam se tyd in die 800 was uiters teleurstellend. Hy het sy teenstanders met etlike meters geklop, maar 1 minuut 48.39 sekondes was nie naastenby wat van hom verwag was nie.
Die voorste uitslae:
100 meter vroue: 1 Christine Mboma (11.62), 2 Ndawana Haitembu (11.63), 3 Johanna Ludgerus (11.81).
100 meter mans: 1 Gilbert Hainuca (9.86), 2 Gregor Appols (10.45), 3 Hatago Murere (10.52).
200 vroue: 1 Christine Mboma (24.10), 2 Ndawana Haitembu (24.23), 3 Jade Nangula (24.55).
200 mans: 1 Gilbert Hainuca (20.82), 2 Magano Naseb (20.95), 3 Elvis Gaseb (21.08).
400 vroue: 1 Tuulike Angala (56.11), 2 Perpetua Simataa (57.43), 3 Inosensia Haingura (57.56).
400 mans: 1 Elvis Gaseb (45.97), 2 Elton Hoeseb (46.65), 3 Tjimatjitua Kuhanga (46.70).
100-hekkies vroue: 1 Eva Grone (16.26), 2 Zezane Lewin (17.11).
110-hekkies mans: 1 Cameron Brandt (16.52), 2 McDonald Tjipetekera (18.16).
400-hekkies vroue: 1 Kazaatjo Kambiri (79.11).
400-hekkies mans: 1 Michael Driemond (54.91), 2 Isak Apollus (57.21), 3 Vetondouua Tjihumino (58.35).
800 vroue: 1 Tuuliki Angala (2 minute 14.50 sekondes), 2, Nyanyukweni Frans (2:15.73), 3 Linda Hailulu (2:19.03).
800 mans: 1 David Dam (1:48.39), 2 Mathew Angula (1:49.88), 3 Arno Angula (1:50.57).
1 500 vroue: 1 Nyanyukweni Frans (4:44.60), 2 Metchtilde Andowa (4:45.62), 3 Linda Hailulu (4:49.49).
1500 mans: 1 Michael Paulus (3:57.71), 2 Jan Siskae (3:58.46), 3 Jonas Erastus (4:05.01).
5000 vroue: 1 Monika Kandjebo (18:22.55), 2 Beata Nghilifilwa (18:25.93), 3 Elizabeth Kalola (18:34.53).
5000 mans: 1 Jonas Erastus (15:28.84), 2 Junias Kalili (15:40.85), 3 Maveipi Kaiko (15:56.68).
10 000 mans: 1 Fikameni Hamutenya (34:58.50), 2 Josua Johannes (36:36.31).
Driesprong vroue: Frieda Iithete (12.30 meter).
Driesproing mans: 1 Roger Haitengi (15.66), 2 Tersuan Haack (13.85), 3 Abrahan Nuseb (13.70).
Hoogspring vroue: 1 Alexandra Scheepers (1.65), 2 Chrislene Klein (1.60), 3 Uzuvira Tjikurame (1.55).
Hoogspring mans: 1 Anana Samuntu (2.00), 2 Karsten Diergaardt (1.95), 3 Bishop Shikongo (1.90).
Verspring vroue: 1 Frieda Iithete (5.64), 2 Alexandra Scheepers (5.41), 3 Lauren van Niekerk (5.22).
Verspring mans: 1 Chenoult Lionel Coetzee (8.10), 2 Abraham Nuseb (6.95), 3 Andrew Kalilo (6.91).
Gewigstoot vroue: 1 Marike Weitz (13.13), 2 Marie Gey von Pittius (12.72), 3 Zanel Theron (11.19).
Gewigstoot mans: Coenraad Kühn (17.54), 2 Shaun van Rooyen (10.49), 3 Regie Benade (10.17).
Hamergooi vroue: 1 Annelize Smith (36.03), 2 Ansuné Smith (31.89), 3 Corné Smit-Harmse (21.38).
Hamergooi mans: 1 William van Wyk (29.39), 2 Hope Katjihingua (16.28).
Diskusgooi vroue: 1 Marike Weitz (43.44), 2 Marie Gey von Pittius (41.19), 3 Leané Boshoff (36.92).
Diskusgooi mans: 1 Ryan Williams (56.48), 2 Regie Benade (30.18), 3 William van Wyk (29.49).
Spiesgooi vroue: 1 Treasure-Lee van Wyk (27.28), 2 Estomi Katjijova (26.09), 3 Corné Smit-Harmse (17.11).
Spiesgooi mans: 1 Jasper Engelbrecht (59.99), 2 Nathan Basson (48.74), 3 Abraham Martin (47.00).
[email protected]