Suburbs kry selfvertroue en Unam bly onoorwonne

Klubrugby
FNB Unam is nou die enigste onoorwonne span.
Tielman Van Lill
FNB Western Suburbs 1 het Saterdag sy eerste premierligawedstryd vir die 2024-seisoen van die Namibië Rugby-unie teen Arysteq Asset Management Dolphin 1 by Suburbspark in Khomasdal met 33-17 ingepalm.
Hoewel die Swakopmunders eerste op die telbord was, het Suburbs onder leiding van Deveroux Jansen, hul kaptein en buitesenter, die bordjies verhang.
Beide Jansen en afrigter Jacky Bock was agterna nie noodwendig tevrede met hul vertoning nie. Veral met FNB Rehoboth-rugbyklub wat komende Saterdag op Rehoboth vir hulle wag, sal Suburbs steeds hul spelpeil moet lig en minder foute maak.
Met hul eerste wenpunte in die sakkie kan dié welkome sege Suburbs vir ‘n stewige hupstoot gee.
Jansen het gesê: “Die oorwinning sal ons selfvertroue help, veral met Rehoboth in gedagte. Ek dink die uitslag is die begin vir ‘n nuwe hoofstuk vir ons. Ons het geweldig baie spelers verloor en is besige om span te bou. Dit kan dalk ‘n hele paar seisoene duur voor Suburbs weer die krag van ouds is.
“Ten spyte van ‘n stadige begin teen Dolphins, het ons positief gereageer en as ‘n span saam gespeel. Ons is positief en hopelik kan ons Rehoboth komende naweek ore aansit. Suburbs het in vorige wedstryde vir lang periodes in ons teenstanders se kwartgebied kamp opgeslaan, maar kon nie afrond om punte aan te teken nie. Ons sal hard hieraan werk.”
Bock het gesê: “Om eerlik te wees, dit was ‘n frustrerende wedstryd. Al het ons gewen, is dit op sigself nog nie goed genoeg nie. Ons sal die komende week hard met mekaar gesels. Suburbs is nie net ‘n rugbyklub nie. Ons het ‘n goeie kultuur, tradisies en ‘n lang trotse geskiedenis. Dit moet op en van die veld eerbiedig word.
“Ons spelers is hopeloos te gerus op die veld. Die manne moet eienaarskap vat as hulle op die veld stap. Die ouens is fiks, daar is nie fout in daardie afdeling nie. Die wedstrydplan moet ten volle en met dringendheid uitgevoer word.
“Ek is baie teleurgesteld met vandag se kragmeting. Ons het wel teen United en Wanderers verloor, maar die kwaliteit van die rugby wat ons toe gespeel het, was heelwat hoër as vandag s’n.”
Suburbs drieë (5): linkervleuel Jayden Links (1), agtsteman Dhale Cloete (2), flank Sebastian Kameya (1) en stut Uvatera Kaverua (1). Doelskoppe: losskakel Justin Nel (4).
Dolphins drieë (3): heelagter Zano van Wyk (1), vleuel Rashaad van Rooyen (1) en stut Tjino Tjirare (1). Doelskop: Tjirare (1).

BULSEGE VIR UNAM
Op Grootfontein het FNB Unam die enigste onoorwonne span in die NRU premierliga gebly deur sy uitdager FNB Grootfontein met 31-20 te verslaan.
Die studentespan se ses drieë was genoeg vir een bonuspunt, terwyl ‘n sewende vyfpunter vir hulle nog een ekstra kon beteken het.
Die senterpaar Kieron Diergaardt en kaptein Alcino Izaacs, die vleuel Quirinone Majiedt (2) en die reserwestut Simon Kanime het die besoekende wenspan se drieë aangeteken, terwyl doelskoppe deur Diergaardt (1) en heelagter Aljarreau Zaahl (2) bygevoeg is.
Grootfontein kon geen ligapunt byvoeg nie, ondanks twee drieë deur die kaptein en haker Wikus Jacobs en nog een deur heelagter AJ Vercuil, wat ook met een doelskop geslaag het.

KUDUS KLOP REHOBOTH
Chrysander Botha se hand as tegniese konsultant kon gesien word in die ondernemende spel wat FNB Kudus tydens hul tuisoorwinning met 39-23 teen FNB Rehoboth opgelewer het, sê ons kollega Otis Finck.
Kudus het reeds dié seisoen gewys dat hul voorspelers oor heelwat krag beskik, wat ook teen die Rooi Bulle in die skrums uitgestal is. Hoewel die afronding van sommige agterlynbewegings verhinder het dat selfs meer punte aangeteken kon word, het die bloues vol planne gelyk.
Die wenspan se ses driedrukkers was haker Luaan Karsten, slot Enzio Kotzee, agtsteman Joshua Jacobs, senter Justin Newman en vleuel Irongwa Atshivudhi. Losskakel Scott Winborn se bydrae was twee doelskoppe en ‘n strafdoel en plaasvervanger Kyle Wentzel het ook twee skoppunte behaal.

UNAM-VROUE TE GOED
Die Unam Steenbokkies het hul NRU vroueligawedstryd teen Grootfontein op die noordedorp met die wegholtelling van 81-0 oorheers.
Selfs sonder die klein blits Ivonne Kooper op hul spanlys, het Unam 13 drieë ingeryg, waarvan senter Fiola Vliete en flank Ndapanda Kakundi elk drie aangeteken het. Losskakel Michelle Slinger het met agt doelskoppe getref.
[email protected]