Swiegers vind sy plek tussen voorstes ter wêreld
Die Namibiese kanniedood Piet Swiegers het Sondag sy deelname by die Mythos Primiero Dolomiti bergfietsresies– deel van die UCI wêreldkampioenskap in marathon-bergfietsry – in ‘n sterk 11de plek in sy ouderdomsklas (55-59 jaar) voltooi.
Die resies in die gebergtes van San Martino di Castrozza in Italië was op ‘n roete van 82.1 kilometer uitgelê, met vertikale klimwerk van 3 400 meter. Swiegers se eindposisie was inderdaad beter as van die ryers wat hoër gereken was en dus beter wegspringposisies gehad het.
Swiegers, wat bykans sinoniem met Klein-Aus Vista in die suide van Namibië geword het, vertel hoe sy planne gedurende die byeenkoms moes aanpas.
“As die skoot klap, is die strategie om onder die voorste bondel te bly, maar wanneer die kompetisie jou begin wegry teen ‘n klim met 10-15% gradiënt op ‘n teerpad wat vir 12 km strek en in 50 minute voltooi word, dan moet jou planne maar aanpas namate die resies ontwikkel.
“Jy kyk vir geleenthede waar jy verlore tyd kan inhaal, jy probeer dan so hard jy kan op die roete se ander terrein (steil klimme en enkelspoor afdraande) om plekke te vind waar dit jou beter pas om die res in te haal of verby te steek.
“Maar die uitmergelende klimme en afdraandes put jou uit en oor die laaste twee-derdes van die roete raak dit bloot ‘survival mode’, want die afdraandes is amper meer uitputtend as die opdraandes.”
Swiegers is in sy noppies oor die kans om homself teen die wêreld se bestes in sy ouderdomsklas te kon toets.
“Ek is tevrede met my elfde plek –hierdie top-15 ryers was almal vanaf ‘n jong ouderdom ryers op die hoogste vlakke van kompetisie.
“As jy nie die nes verlaat en jouself toets en probeer uitvind waar jy staan nie, sal jy nie weet nie.
“Die fiets het nie verniet sy ontstaan in Europa gehad nie (verwysend na Europese lande se oorheersing van die topposisies). Die room van die wêreld se talent is hier en posisies op die podium is dus net vir die top 1% beskore.
“Vir my was dit ‘n baie goeie blik op die realititeit, om te sien waar ek staan. Die dolomietgebergtes in die noorde van Italië is ‘n pragtige omgewing; die resies se organisering was puik en mense wat jy ontmoet, die reis, die geselskap en die bestemming was die moeite werd.”
Swiegers sê ook ‘n groot dankie aan elkeen wat hom ondersteun en belangstelling in sy avontuur getoon het.
• KYK na hoogtepunte van die byeenkoms in Italië, https://q.my.na/6YI0/


