Tara ontwaak opnuut vir naelbytaksie

Motorsport
Organiseerders is in die finale stadiums om vanjaar se roete te bevestig en bekend te maak.
Tielman van Lill

Ongeveer drie weke, dit is hoeveel tyd die geswore tydrenentoesiaste oor het om hul vuurwaens vir Namibië se grootste tydren en die skerp naels van Tara, die kat, voor te berei.

Die 56ste jaarlikse Tara-tydren sal op 11, 12 en 13 Junie aan die buitewyke van die hoofstad deur die Windhoek-motorklub (WMK) aangebied word.

Die titelborg vir die 2026 Tara-motortydren is nog nie bekend nie, maar sal binnekort deur die WMK aangekondig word.

Die roete kan ook nog nie bekend gestel word nie, maar is glo omtrent 90 persent op swart-en-wit neergepen.

Die afgelope naweek het spanne kans gehad om die Swakopmund-tydren as ‘n kleedrepetisie vir die Tara te gebruik (uitslae in gister se koerant). Maar dié uitstappie aan die kus kon uiteraard ook negatiewe nagevolge vir van die deelnemers ingehou het, sover teëspoed vir hul voertuie betref.

 

Wat is nuus vir 2026?

Derek Jacobs, sekretaris-generaal van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF), vertel: “Die Tara begin op 11 Junie en duur oor drie dae. Die aksie spring die Donderdag weg en eindig die Saterdagnamiddag.

“Die organiserende komitee van die WMK is besig om die borg te finaliseer en komende Sondag maak ons die roete vas. Die roete is omtrent 90 persent klaar, dus gaan ons Sondag uit om inspeksie te doen om die laaste trajekte vas te maak. Ongelukkig kan ons niks bevestig alvorens alles nie goedgekeur is nie.

“Ons sukkel bietjie met die paaie op sekere plekke wat tydens die onlangse reënseisoen verspoel het. Daar is redelik skade en masjinerie vir grondverskuiwing moet ingespan word om die roete gangbaar en geskik vir die spanne te maak.

“Die res van die trajekte lyk egter of dit grootliks dieselfde as verlede jaar s’n gaan wees. Van die trajekte sal in die teenoorgestelde rigting as in 2025 gejaag word. Dit verander natuurlik die prentjie totaal en al vir beide die bestuurder en die navigator en dit bied ‘n vars uitdaging ... ook vir toeskouers.

“Die getalle inskrywings lyk goed, maar ongelukkig is daar tans geen belangstelling van die Suid-Afrikaners se kant af nie. Daar was wel een wat wou kom ry, maar familiesake het hom toe genoop om te onttrek.”

Wilro Dippenaar het verlede jaar die eerste Namibiese bestuurder geword wat die Tara-tydren drie opeenvolgende kere gewen het, met Carolyn Swan as sy navigator.

 

2025 se Tara-wenners (S-klasse vir sedanmotors)

S4-klas en algeheel: 1 Wilro Dippenaar/Carolyn Swan (2 ure 04 minute 22 sekondes), 2 Allan Martin/Marieta Olivier (2:08:52), 3 Stefanie Botha/Mandi Landsberg (2:26:23).

S2-klas: 1 Zachary Martin/Anique Schoeman (2:31:10), 2 Wido Bartsch/Raymond Fourie (2:31:53), 3 Peer Röhm/Piet Steyn (2:35:42).

S1-klas: 1 Pieter Greeff/JP Robinson (2:38:31).

 

Uitdaag-afdeling (Challenge Rally, vir bakkies en ander doelgeboude stofmonsters)

Algeheel: 1 Ruaan Viviers/Cecil Koorts, 2 Etienne van der Heever/Willy van Wyk, 3 Werner Bartsch/Christel Fourie.

CR2-klas: 1 Ruaan Viviers/Cecil Koorts (2:11:33), 2 Etienne van der Heever/Willy van Wyk (2:11:56), 3 Werner Bartsch/Christel Fourie (2:25:33), 4 Rolf Pretorius/Kai Pretorius (2:25:57), 5 Paul Ackerman/Werner Kauert (3:00:49).

CR1-klas: 1 Ekko Eisenberg/Horacio Rietz (2:30:19), 2 SJ Schoeman/Chané Havenga (2:31:57), 3 Chrizelda Engels/Ruan de Lange (2:34:26).

Die Walvisbaai-motorklub het 10 van die 16 inskrywings in 2025 opgelewer.

[email protected]