Theodor betree Paralimpiese missie met LA 2026 as ‘n droom
Die junior fietsryer Theodor Janse van Vuuren is tans saam met die nasionale fietsry-afrigter Hans du Toit op ’n missie om Namibiese fietsry deel van Paralimpiese fietsry te maak.
Die missie het begin met die ondersteuning van veral die Davin Sporttrust, wat vanjaar Theodor se vordering as ‘n fietsryer in die “normale” fietsrystroom finansieel begin ondersteun het.
Janse van Vuuren, wat gister sy 17de verjaarsdag in Montisalvano, Italië, gevier het, is gebore met al vyf vingers aan sy linkerhand wat nie ontwikkel het nie.
‘n Spesiale fietsryhandskoen is uit Brittanje ingevoer waarmee Janse van Vuuren met sy linkerhand ‘n greep op die handvatsel kan behou.
Die driemalige Olimpiese bergfietsryer en deesdae fietswinkeleienaar, Mannie Heymans, het gehelp om ‘n toestel (“double brake booster”) in te voer waarmee Janse van Vuuren met sy regterhand se vingers beide sy voor- en agterwiel se remme kan hanteer.
Du Toit sê: “Theo het nog sy hele lewe in Namibië, Suid-Afrika en selfs laas jaar in Angola op die hoogste vlak in beide berg- en padfietsry in ‘able-bodied’ kompetisies deelgeneem. Hy het selfs laas jaar in die Afrika Jeugspele in Angola die Namibiese span verteenwoordig en ’n baie respektabele sewende posisie in die individuele tydtoets en 16de in die padresies vermag.
“Hierdie is ons eerste blootstelling op die gebied van paralimpiese fietsry en ’n groot leerskool vir beide van ons.
“Ons is Dinsdag saam deur die proses van klassifisering as ‘n Paralimpiese atleet en Theo is voorwaardelik ‘n C5-klassifikasie toegeken.
“Theo sal nou Vrydag en Sondag hier onderskeidelik in ‘n tydtoets en ‘n padwedren deelneem – deel van die UCI Paralimpiese padfietsry-Wêreldbeker (rondte 3)
“Dis ons droom om moontlik vir die 2028 Paralimpiese Spele in Los Angeles te kwalifiseer en sodoende Namibië vir die eerste keer in die geskiedenis in para-fietsry op dié hoë vlak te verteenwoordig.
“Die C5-klas is ’n baie sterk groep en meer as 40 ryers van 22 lande sal in dié klassifikasie deelneem. Daar is geen ouderdomsgroepe nie, so Theo sal ook as die jongste atleet in die groep deelneem. Die groep sluit ‘n vorige Paralimpiese wêreldkampioen Daniel Abram Gebru (wat ook al gereeld in Namibië aan die Nedbank Desert Dash deelgeneem het), asook die huidige wêreldkampioen, Lauro Chaman (38) van Brasilië in.
“Ons bedank weereens graag die Davin Sporttrust en die Namibiese Nasionale Paralimpiese Komitee vir hul ondersteuning om dié droom na te jaag.”


