Tim Short (5 vir 8) steel kollig teen Namibiese A-span
Die staatmakers Gerhard Erasmus en JJ Smit het met goeie vertonings uitgestaan toe die Namibiese krieketspan Dinsdag by die United-veld ‘n groot oorwinning in ‘n eendagwedstryd teen die nasionale A-span behaal het.
Die merkwaardige boulsyfers van ‘n tienerjarige aanwins in die senior nasionale opset kan egter groter nuus maak, indien Tim Short sy kans genoegsaam aangegryp het om die keurders se jawoord te verseker.
Krieket Namibië behoort eersdaags sy toerspan aan te kondig wat na Nepal moet toer (4 tot 21 Desember) vir ’n deurslaggewende kwalifiserende uitkloptoernooi in die opbou na die 2027 ICC Wêreldbeker, waarvan Namibië, Zimbabwe en Suid-Afrika mede-aanbieders sal wees.
Die FNB Eagles sal hierdie hekkie moet oorleef deur as een van die topvier spanne uit agt te eindig. Kanada, Nepal, die Verenigde Arabiese Emirate, Jersey, Koeweit, Italië en Uganda is die ander sewe aanspraakmakers.
Net vier spanne sal deurdring na die finale kwalifiserende toernooi (26 Februarie tot 21 Maart) wat gesamentlik deur Namibië en Suid-Afrika aangebied sal word. Die ses spanne wat reeds tot hier gevorder het, is Ierland, Wes-Indië, Nederland, Oman, Skotland en die VSA.
Motivering om in die Wêreldbeker te speel, is die geelwortel voor elke span se neus en elke wedstryd van nou af sal dus in ’n gelaaide atmosfeer beslis word.
Met afrigter Craig Williams-hulle se bereidwilligheid om opkomende jongelinge soos Kyle van Santen en Tim Short in die “nasionale” span ‘n kans te gee en potensiële wedstrydwenners soos Bernard Scholtz, Louren Steenkamp, Nicol Loftie-Eaton en Zane Green in die “B-span” te laat speel, wys dit dat Namibië alles in die stryd werp om sy voorbereiding op die komende uitdagings te maksimaliseer.
Sege met 154 lopies
Dinsdag het die Namibiese span 217 almal uit met die laaste bal van hul 50 boulbeurte aangeteken, wat die grondslag vir hul oorwinning met 154 lopies teen die A-span gelê het.
Vyftigtalle deur Gerhard Erasmus (77 van 80 balle; 1x4 6x6) en JJ Smit (71 van 83 balle; 4x4 5x6) is gekenmerk deur hul aanvallende houekeuses teen enige swakker bal. Die twee se vennootskap het die Eagles vanaf 64/4 tot 195/5 geneem, hoewel min van hul kolfmaats juis gedenkwaardige bydraes gelewer het totdat Zacheo van Vuuren ‘n ses en ‘n vier geslaan in sy 13 van 14 balle.
Vir die A-span het die naatboulers Dan Brassell (2/22 in 7 boulbeurte) en Max Heingo (1/34 in 7) met die draaiers Bernard Scholtz (1/36 in 10), JC Balt (1/35 in 10) en Nicol Loftie-Eaton (2/55 in 10) gekombineer.
Die A-span se antwoord met die kolf is egter op ‘n skamele 63 almal uit beëindig.
Die 18-jarige Tim Short was met sy linkerarm draaiballe ‘n bykans onspeelbare faktor en het vyf paaltjies vir net agt lopies in 6.5 boulbeurte geneem. Sy 33 leë balle het die paaltjies van Tiaan van der Merwe (9), Louren Steenkamp (3), JC Balt (0), Bernard Scholtz (0) en Max Heingo (0) ingesluit.
Short het vanjaar sy skoolloopbaan as onderhoofseun by Rondebosch High School in die Kaap voltooi, waar hy reeds die afgelope twee jaar die Westelike Provinsie by die Khaya Majola-krieketweek verteenwoordig het. Die WP was in 2024 die wenspan in die toernooi in Kaapstad.
Gerhard Erasmus het met sy boulwerk ook vier paaltjies vir 20 in 9 boulbeurte geneem. JJ Smit se ses boulbeurte het hom net 0/3 gekos.
Zane Green was as kaptein die A-span se enigste vegter vir die dag met 17 van 39 balle (1x4), totdat hy deur paaltjiewagter Malan Kruger van Jack Brassell (1/13 in 4) se boulwerk uitgevang is.


