Titelhouer WHS Old Boys te veel vir CCD
Die speler van die wedstryd het vir die verloorspan CCD Tigers uitgeblink, maar ATG WHS Old Boys het Sondag die wenpunte ingeoes om te verseker dat hulle tans boaan die puntelys van Krieket Namibië se premierliga in die 50-boulbeurtformaat is.
WHS Old Boys het by die Wanderers-veld die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Nadat die ligbloues vir 212 almal uitgeboul is, het hulle dit reggekry om CCD Tigers tot 148 almal uit in 37.3 boulbeurte te beperk en sodoende met 64 lopies te wen.
Shaun Fouché se WHS Old Boys-span is die huidige titelhouer in beide die eendag- en T20-premierliga van Krieket Namibië. As kaptein en aanvangskolwer het Fouché Sondag ‘n sentrale bydrae gelewer met 68 lopies van 64 balle (nege viere, twee sesse).
Hy het Zacheo Jansen van Vuuren (11) vroeg gesien terugstap, voordat Fouché uitgevang is met WHS Old Boys se totaal op 90/2 ná 21.3 boulbeurte.
Henry van Wyk (9), Dylan Leicher (33 van 30 balle; 3x4 1x6), Kyle van Santen (23 van 41 balle; 1x4 1x6), Abri Oberholzer (17 van 29 balle; 1x4) en Henco van der Merwe (14 van 23 balle; 1x6) het kleiner bydraes gelewer, maar sonder die 21 ekstras (vyf straflopies; agt wedlopers; drie foutballe, vyf loslopies) sou Old Boys straks ook nie die 200-merk kon haal nie.
Simon Shikongo het as bouler vir CCD Tigers uitgeblink met vier paaltjies vir 19 lopies in 9.2 boulbeurte (drie leeg) – wat Fouché, Jansen van Vuuren en nommer drie Henry van Wyk ingesluit het voor hy in ‘n later boulskof ook van nommer elf Abner Siseso (6) ontslae geraak het. Dit was uiteindelik genoeg om sy aanwysing as speler van die wedstryd te verseker.
In CCD Tigers se kolfbeurt van 148 almal uit het die paaltjies met reëlmaat geval, et die hoogste telling deur Nicholas van der Colff (26 van 34 balle; 2x4 2x6).
• Op die puntestand is WHS Old Boys tans die voorloper met twee uit drie gewen (agt punte).
Tweede is CCD Tigers met ses punte n drie wedstryde; gevolg deur APS Wanderers (twee punte ná drie wedstryde) en United (twee punte ná drie wedstryde).


