Uitslag teen Sables glip net-net uit Welwitschias se greep
Die losskakel David Hayes het Saterdag uit die skaduwee van Ian Prior beweeg as een van die helde van die Zimbabwe Sables se naelskraapse toetsoorwinning met 36-33 teen Namibië in die Harare Sportstadion.
‘n Jeugdige Namibiese span het teen die verwagtinge in ‘n sterk terugvegpoging van stapel gestuur en so byna in die doodsnikke die oorwinning uit die hande van die tuisspan gegaps.
Vir die Sables was dit ‘n noue ontkoming van ‘n verleentheid indien hulle – as die kontinentale kwalifiseerder vir die 2027 Wêreldbeker in Australië – teen ‘n bykans volledige plaaslike amateurgroep van Namibië sou verloor.
Nietemin spog Zimbabwe nou met drie opeenvolgende oorwinnings teen sy buurland, wat ‘n betekenisvolle ommeswaai verteenwoordig van die verloorrekord van omtrent drie uit 35 toetse tussen 1990 en 2022.
Namibië lek nog sy wonde ná sy eerste uitskakeling in agt Wêreldbeker-siklusse en fokus op ‘n herboufase met die jonger geslag wat vir ‘n aanslag op die 2031 Wêreldbeker gereed moet wees. Uit hierdie oogpunt was die besoek aan ‘n raserige Harare Sportstadion met ‘n paar duisend entoesiastiese Sables-ondersteuners goeie en tydige medisyne om die groep te begin saamsnoer.
Verskeie ligpunte sal deel van die Namibiese afrigterspan se opsomming van die vertoning van hul uiters jeugdige groep met agt debutante in toetsrugby wees. In verskeie skrums is die tuisspan met meters teruggestoot, wat onder meer ‘n strafdrie afgedwing het, terwyl drie van die Namibiërs se drieë op hul oorheersing van die lynstaandrywe gebaseer was.
Tuisspan oorleef die aanslag
Hayes se linker-skopvoet het Saterdag ‘n beduidende rol gespeel met vier doelskoppe (uit vyf) en een strafdoel. Sy algemene vertoning sal die Sables-groep meer gemoedsrus gee indien iets met hul voorste losskakel, Ian Prior, sou gebeur voor of tydens volgende jaar se Wêreldbeker in Australië. Die 26-jarige Hayes, ‘n gebore Durbaniet wat tevore vir die UCT Ikeys in die Varsitybeker gespeel het, is heelwat jonger as hul gevestigde generaal Prior (36).
Zimbabwe het rustyd met 26-14 voorgeloop danksy drieë deur haker Liam Larkan, regtervleuel Darrel Makwasha, agtsteman Aiden Burnett en flank Godfrey Muzanargwo.
Vir Namibië het André van der Berg (buitesenter) met twee strafskoppe pale toe misluk, voordat haker Edward Drotsky drieë van lynstaandrywe in die 27ste en 38ste minute afgerond het.
Geel kaarte vir twee Zimbabwiërs kort ná rustyd, insluitend ná die toekenning van die strafdrie ná 49 minute, het sake effens vergemaklik vir die terugvegpoging toe Namibië die gaping tot 26-21 laat krimp het.
‘n Verlore Namibiese lynstaan buite hul eie kwartgebied is egter deur die Sables uitgebuit met ‘n aanskoulike beweging wat deur hul ervare kaptein en skrumskakel Hilton Mudariki met ‘n drie afgerond is (33-21).
Kanse op die aanval het verlore gegaan, soos toe die vlugvoetige heelagter Aston Mukwiilongo aan die hardloop geraak het van ‘n los Zimbabwiese skop. Van die volgende fase is die flank JP Campbell teen die linkerkantlyn weggestuur, maar hy kon op die deurslaggewende oomblik nie sy binne-aangee na die onbewaakte Danco Burger wegkry nie.
Nietemin het die Namibiërs dié gebiedsvoordeel in hul volgende lynstaandryfdrie vir die plaasvervanger-haker Armand Combrinck omskep. Wiks Tromp het verdoel, voordat Zimbabwe hul laaste punte met ‘n Hayes-strafdoel aangeteken het (36-28).
Namibië het sy plaasvervangers opgestuur, van wie een, die flank Kyle Nel, die laaste drie gedruk het ná sterk lopies deur slot Kistings Minyoi en flank Wikus Jacobs. Zimbabwe was verlig toe Tromp se doelskop nie die kol getref het nie.
Die plaasvervanger-skrumskakel Elzandro van Wyk het in die doodsnikke aansluiting met heelagter Jurgen Meyer gevind in ‘n wegbreeklopie uit hul kwartgebied, wat gelukkig vir Zimbabwe met ‘n verligtende strafskop vir ‘n grondoortreding naby hul doellyn geëindig het.
Aan die Namibiese kant het agt spelers hul toetsdebuut gemaak, naamlik Edward Drotsky, JP Campbell, losskakel Wiks Tromp, vleuel Tolley Tjipute en die plaasvervangers McHenry Kambatuku, Kyle Nel, SW Kuhn en Lazarus Joseph.


