United verras Kudus en Grootfontein is bo
Ná ‘n aksiebelaaide derde naweek van die Namibië Rugbyunie se premierliga het ‘n derde verskillende voorloper na vore getree met FNB Grootfontein skielik die enigste onoorwonne span.
Grootfontein het Saterdag hul besoekers FNB Wanderers met 37-32 op die noordedorp se Grammie Brand-stadion oorskadu, om sodoende die alleenvoorloper te wees nadat hierdie twee klubs voor die afskop op 10 ligapunte elk was.
Wanderers se afrigter Darryl de la Harpe sê: “Die wedstryd was maar baie rukkerig met vele onderbreking. Grootfontein was goed in die vaste fasette en het hul kanse afgerond, terwyl ons maar baie foute uit onervarenheid begaan het. Maar ons het verskeie lesse bygeleer. Dominique Isaacs (skrumskakel) was baie goed vir die tweedes en eerstespan, asook Dhale Cloete en Kyle Nel.”
Wikus Jacobs, kaptein van Grootfontein, sê dit was sonder twyfel ‘n baie fisieke wedstryd en die uitslag kon enige kant toe gegaan het.
“Ek reken dit het baie goed gewerk om drie punte te vat elke keer as ons ‘n strafskop binne trefafstand gekry het, wat Franklin het weer baie goed geskop. Ons los spel tussen voor- en agterspelers het ook baie goed vir ons gewerk.”
Grootfontein se vier drieë is deur Jacobs (haker), Franklin Busch (senter), Justin Pollmann (skrumskakel) en Pieter Daan Kok (flank) behaal. Busch het ook met vier doelskoppe en drie strafdoele geslaag.
Wanderers se driedrukkers was Tolley Tjipute (heelagter), Jonathan Hanekom (vleuel), Wiks Tromp (losskakel) en Ruan Ludick (slot). Tromp het drie doelskoppe en twee strafdoele bygevoeg.
Opwinding by Gemsbokpark
Die heersende titelhouer FNB Kudus is op dramatiese wyse met 36-43 geklop, toe agtsteman Ben Burger met die laaste beweging van die wedstryd uit sy eie kwartgebied ontsnap het vir United Rugbyklub se wendrie in Olympia.
United se vernuf om met teenaanvalle uit hul eie gebied wegholdrieë uit oënskynlik niks te skep, was een van die blywende kenmerke van die dag. Die Filistyne is tans derde en die veggees teen hul groot mededinger van die kus het vrugte afgewerp.
Ná ‘n 0-10 agterstand het United rustyd met 19-10 voorgeloop, maar die Walvisbaaiers het geensins slapgelê nie en het sake met 36-36 gelykop gemaak voor Burger se doodskoot.
Vir United het Ben Burger (2), flank Thehard Lintvelt, skrumskakel Elzandro van Wyk, losskakel Hanreco van Zyl en vleuel Soobramoney Sammy drieë ingeryg. Doelskoppe is deur Lintvelt (3), Van Zyl (1) en Enrique Husselmann (1) gedeel, met een strafdoel deur Lintvelt.
Benewens Kudus se verloorbonuspunt is nog een bygevoeg met die drieë van haker Jarren Koning, flank en kaptein Alexander Jansen, heelagter Aston Mukwiilongo, senter Justin Newman en skrumskakel Rayshawn Shoombe. Losskakel Denzo Bruwer het sewe skoppunte behaal en Aurelio Plato vier.
• Op Rehoboth het FNB Reho Falcon sy eerste oorwinning van die seisoen met 38-29 teen FNB Western Suburbs gevier. Die twee klubs is na dese sewende en agtste op die puntelys.
Vir Falcon het heelagter Cliven Loubser, senter JP van Wyk, flanke Keynen Basson (2) en Xio Saulse drieë gedruk. Losskakel Casey Beukes het met vier doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.
Suburbs het met drieë-bonuspunt danksy vyfpunters deur senter Morgan Esterhuizen, vleuel Jamal Fisch, losskakel Wyatt Brooks, flank Delano van Wyk en slot Billa Kaverua weggekom, terwyl Brooks twee keer verdoel het.
• Adam Hartman se verslag oor FNB Dolphin se triomf met 59-14 teen FNB Rehoboth wat die Swakopmunders nou tot vierde op die puntelys laat opskiet het, is op bladsy 2.
• Wedstrydbepalings, uitslae en ligastand by www.fnbrugby.my.na/


