Visier ingestel op Afrika-medaljes uit KZN

Bergfietsry
Die kleinerige Namibiese span bevat verskeie sterk aanspraakmakers.
Andrew Poolman
Op grond van hul sukses die afgelope naweek by die SA Beker-bergfietsbyeenkoms by dieselfde Cascades-baan in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, sal die Namibiese span hoë verwagtinge koester vir die Afrika-kampioenskap in bergfietsry waar die Olimpiese veldresiesdissipline vandag aan die beurt kom.
Roger Surén is tans die nommer een gekeurde junior mansryer (onder-18) ter wêreld en behoort opnuut ‘n sterk aanspraakmaker te wees. Hy het juis verlede jaar in sy eerste van twee kwalifiserende jare in hierdie ouderdomsklas reeds die Afrika-titel gewen toe die kontinentale kampioenskap in Marokko aangebied was.
Afgelope Sondag by die SA Beker-resies het Surén en Suid-Afrika se sterkste jaer, Samuel Cleary, mekaar goed aan die voorpunt van die resies opgekeil. Die Namibiër het darem in die pylvak genoeg in die tenk oor gehad om met net ‘n paar meters voor Cleary vir die goue medalje te bly.
Sean Lowe (sesde), Christiaan van der Westhuizen (negende), Marco Thiel (12de) het ook stewig geëindig in die kompeterende resies waarin 22 ryers die volle vyf baanrondtes voltooi het.

Junior vroue
Delsia Janse van Vuuren het ook verlede jaar die junior meisies se Afrika-titel in Marokko verower. Sy sal vandag haar stryd hervat met die groepie Suid-Afrikaners Lu-Marie du Plessis (wenner) en Nadia van Wyk (tweede) wat haar Sondag tot die derde eindposisie in die SA Beker-resies beperk het.
Haar mede-Namibiër Rosemarie Thiel was sesde, net ná Jodi MacKinnon (vierde) en Errin Mackridge (vyfde).

Meisies onder-14
Die jong Namibiese vooruitsig Qara Volschenk het die meisies o.14 se resies (twee baanrondtes) met bykans drie minute teen Sophia Lombaard en Leyla de Oliveira gewen.
Nicole Surén was vyfde van die meisies onder 16; en Mike Baartman was 12de van die o.16-seuns.

Elite mans
Hugo Hahn was gister in die elite mansklas die enigste Namibiese inskrywing in die Afrika-kampioenskap se kortbaanresies, waar hy in die agtste plek klaargemaak het.
Hahn was die vorige dag sewende in die SA Beker se veldresies waarin die gasheerland se Michael Foster, Massimiliano Ambrosi en Johan van Zyl as die topdrie geëindig het.

Marathon
In Woensdag se Afrika-marathonbergfietsresies sal Namibië in Pietermaritzburg deur Theuns van der Westhuizen, Vera Looser, Anri Greeff en Monique du Plessis verteenwoordig word.
Looser het haastig na Suid-Afrika ingevlieg kort ná haar ongelukkige UCI Hero Wêreldbeker-marathonbyeenkoms laas Saterdag in Italië.
Die Namibiër het haar in ‘n stadium op die roete van 60 kilometer misgis deur in ‘n mansryer se spoor te volg. Sy moes gevolglik omdraai om terug op die regte roete te kom en nadat sy tevore die twee voorlopers kon sien, was sy nou in die sesde posisie. Hoewel sy gevolglik nie meer so gemotiveerd was om die voorlopers te jaag nie, het sy wel tot ‘n mate herstel om die resies in die vyfde plek te voltooi.
• In afgelope Saterdag se SA Beker-kortbaanresiese in Pietermaritzburg was die Namibiërs se uitslae soos volg:
Elite mans: Hugo Hahn sewende.
Junior mans: Roger Surén goud, Marco Thiel silwer, Sean Lowe sesde, Christiaan van der Westhuizen negende.
Junior vroue: Rosemarie Thiel vyfde.
Seuns o.16: Mike Baartman elfde.
Meisies o.16: Nicole Surén vyfde.
Meisies o.14: Qara Volschenk goud.