Vroue-7’s se droom na LA 2028 kry hupstoot
Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee en Statebondspele-vereniging (NNOC-CGA), in vennootskap met die Namibië Rugbyunie (NRU), het die toekenning van ’n toelaag van 50 000 Amerikaanse dollar (nagenoeg N$800 000) gister namens die Olimpiese Solidariteitsbeweging aangekondig wat bestem is vir die ontwikkeling en voorbereiding van Namibië se vrouerugby-sewesspan op die pad na kwalifisering vir die 2008 Olimpiese Spele in Los Angeles (LA28).
Dié finansiering verteenwoordig ’n beduidende belegging in hoëprestasiesport vir vroue in Namibië en sal ’n gestruktureerde program ondersteun wat daarop gemik is om die nasionale vrouerugby-sewesprogram te versterk, internasionale mededingendheid te bevorder en ’n volhoubare pad na Olimpiese kwalifikasie te vestig.
Die toelaag sal spesifieke gebiede van voorbereiding ondersteun, insluitend spelerontwikkeling, tegniese steun en afrigting, oefenkampe, blootstelling aan toernooie en ander hoëprestasie-inisiatiewe wat nodig is om die span stelselmatig vir die LA28-kwalifiseringsproses voor te berei.
Die uitvoerende hoof van die NNOC-CGA, Anri Parker, het die nuus verwelkom en dit beskryf as ’n belangrike voorbeeld van hoe internasionale Olimpiese finansiering in tasbare geleenthede vir Namibiese atlete omskep kan word.
“Hierdie belegging gaan oor veel meer as net die geld om ’n span te ondersteun. Dit gaan daaroor om ’n geleentheid vir Namibiese vroue te skep om mee te ding, te ontwikkel en uiteindelik vir ’n plek op die Olimpiese verhoog mee te ding.
”Ons verantwoordelikheid as die NNOC-CGA is om te verseker dat geleenthede wat deur Olimpiese Solidariteit beskikbaar gestel word, omskep word in betekenisvolle programme vir ons atlete en nasionale federasies,” het Parker gesê.
Sy het gesê die inisiatief sluit aan by Namibië se Sesde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP6) en die regering se breër fokus op sport, jeugontwikkeling, geslagsgelykheid en die ontwikkeling van menslike kapitaal.
“Belegging in vrouesport spreek direk tot insluiting, die bemagtiging van die jeug, vaardigheidsontwikkeling en die skep van geleenthede vir jong Namibiërs. Ons wil aantoon dat finansiering van internasionale sport die regering se nasionale ontwikkelingsdoelwitte kan aanvul, terwyl dit ons help om ’n sterker en meer volhoubare stelsel vir hoëprestasie-sport te bou.”
Parker het uitgewys dat die inisiatief deel vorm van die NNOC-CGA se breër “Pad na LA28”-strategie, wat daarop gemik is om realistiese Olimpiese kwalifiseringsgeleenthede vroegtydig te identifiseer en saam met die nasionale sportbeheerliggame te werk om gestruktureerde, meetbare roetes vir atlete en spanne daar te stel.
“Hoëprestasie kan nie eers ’n paar maande voor ’n groot spele begin nie.
“Indien Namibië suksesvol op internasionale vlak wil meeding, moet ons ons geleenthede vroegtydig identifiseer en strategies daarin belê. LA28 is reeds duidelik in die vooruitsig, en hierdie program bied aan vrouerugby die geleentheid om oor die volgende twee jaar na daardie doelwit toe te werk.”
Parker sê dié aankondiging beklemtoon ook hoe belangrik dit is dat nasionale federasies werkbare langtermynplanne ontwikkel en proaktief met die NNOC-CGA skakel oor internasionale finansieringsgeleenthede.
“Een van ons prioriteite is om te verseker dat Namibië die geleenthede maksimaal benut wat deur Olimpiese Solidariteit beskikbaar gestel word. Finansiering moet gekoppel wees aan strategie, aanspreeklikheid en meetbare uitkomste. Dié program is ’n uitstekende voorbeeld van wat moontlik is wanneer ’n nasionale federasie en die NNOC-CGA saamwerk aan ’n duidelik uiteengesette doelwit.”
Waardering van NRU
John Heynes, uitvoerende hoof van die Namibië Rugbyunie, het die toekenning verwelkom as ’n belangrike katalisator vir die voortgesette ontwikkeling van vrouerugby in Namibië.
“Die Olimpiese Solidariteitsbeweging se steun van US$50 000 bied aan Namibië-rugby ’n belangrike geleentheid om die ontwikkeling van ons vroue- sewesrugbyprogram te versnel.
“Ons fokus sal wees op die skep van ’n gestruktureerde en volhoubare hoëprestasie-omgewing wat aan ons vrouespelers die voorbereiding, blootstelling aan kompetisie en tegniese steun bied wat nodig is om op ’n toenemend hoër internasionale vlak mee te ding,” het Heyns gesê.
“LA28 bied ons ’n duidelike langtermyndoelwit, maar die waarde van hierdie program strek veel verder as Olimpiese kwalifisering. Dit gaan daaroor om die hele ontwikkelingspad vir vrouerugby in Namibië te versterk, meer meisies te inspireer om die sport te beoefen en geleenthede te skep vir talentvolle spelers om vanaf grondvlak- en ontwikkelingstrukture tot nasionale en internasionale kompetisie te vorder.”
Hy sê die vennootskap tussen die NRU en die NNOC-CGA toon hoe belangrik dit is dat sportorganisasies saam aan ’n gedeelde nasionale hoëprestasie-agenda werk.
“Dis ’n belegging in ons vroue, ons spelers en die toekoms van Namibiese rugby. Ons is dankbaar teenoor Olimpiese Solidariteit en die NNOC-CGA dat hulle die potensiaal van ons vroue-sewesrugbyprogram erken.
“Ons verantwoordelikheid is nou om hierdie geleentheid te omskep in ’n gedissiplineerde en meetbare program wat aan ons spelers die beste moontlike kans bied om vir Olimpiese kwalifisering mee te ding.”
Die steun stel die NRU in staat om meer geleenthede te skep vir vrouespelers om op streek- en nasionale vlak mee te ding. ‘n Belangrike doelwit is dus om die deelname in vrouerugby te vergroot en terselfdertyd die pad na hoëprestasie-ontwikkeling te bevorder.
Die NNOK-CGA en NRU het beklemtoon dat kwalifisering vir LA28 ’n ambisieuse mikpunt is wat nie gewaarborg is nie. “Die program sal dus in werking gestel word onderhewig aan mylpale van ontwikkeling en prestasie, met toepaslike monitering, verslagdoening en verantwoordbaarheid.”


