Vroue-Eagles opgewonde oor vierhoekige reeks in Kampala
Die Capricorn Eagles het gister uit Windhoek na Kampala vertrek vir ‘n vierhoekige T20-reeks waarin die vrouekrieketspanne van Uganda, Rwanda en die VSA ook betrokke sal wees.
Op die nuutste wêreldranglys vir T20-vrouekrieket is die gasheerspan Uganda die hoogste geplaas (17de) teenoor Namibië (18de), die VSA (19de) en Rwanda (24ste).
Die Namibiërs het pas ‘n reeks van ses T20-wedstryde op tuisbodem agter die blad, waarin hulle Ierland se o.19-vrouespan met vier oorwinnings teen twee oorheers het.
In drie van die wedstryde was die veelsydige speler Mekelaye Mwatile as speler van die wedstryd aangewys, het haar ouer suster Wilka asook Victoria Hamunyela wat ook elk een keer die ster van die dag was.
Die spankaptein Sunè Kotze-Wittmann sê sy is tevrede met die span se voorbereiding. “Ons het ‘n paar intensiewe oefensessies vir fiksheid en kondisionering, asook ons vaardighede ingesit.”
Sy sê die blootstelling vir nuwelinge uit die huidige en onlangse o.19-groepe, soos Jani-Mari van Heerden, Kiana de Jager, Monique Muller, Sarafia Handiba en Alexa Vorster, was waardevol hulle om ervaring in die opset van die senior nasionale groep tydens ‘n weeklange kompetisie te laat opdoen.
Kotze-Wittmann sê hoewel die VSA enkele posisies laer as Namibië op die ranglys is, was die Amerikaners aan die wenkant in die laaste twee ontmoetings by wêreldwye kwalifiserende toernooie vir die T2-Wêreldbeker, eers in Skotland en daarna weer in Nepal.
“Dis een van die redes hoekom ons opgewonde oor die komende toernooi is ... vir die kans om seker te maak ons pas die lesse toe en kom hierdie keer aan die regte kant van die uitslag,” het sy gesê.
Krieket Namibië se uitvoerende hoof, Johan Müller, sê Uganda is altyd ‘n opponent vir wie Namibië nooit met gemak gebêre kry, sonder om iewers in diep water gesleep te word nie.
Hy het die span voorspoed toegewens en uitgewys dat die komende twee weke se wedstryde deel vorm van die opbou na ‘n toernooi vir ontluikende vrouekrieketlande laat in 2027, wat konstante handhawing en verbetering van hul posisie op die wêreldranglys sal verg.
“Ek moet die vroue komplimenteer met die harde werk wat hulle op die oefenveld ingesit het onder leiding van die afrigters Gerhard Lötter en Tangeni Lungameni.”
Müller het waardering uitgespreek vir die Capricorn-groep se oorhandiging van uitrusting aan die nasionale vrouegroep, asook vir die voortdurende vereenselwiging van die twee betrokke handelsmerke.
Die spelersgroep na Uganda:
Sunè Kotze-Wittmann (kaptein), Mezerly !Goraseb (paaltjiewagter), Kayleen Green, Arrasta Diergaardt, Sylvia Shihepo, Saima Tuhadeleni, Wilka Mwatile, Mekelaye Mwatile, Edelle van Zyl, Naomi Benjamin, Sarafia Handiba, Eveleen Kejarukua, Victoria Hamunyela.
Die bestuurspan is Gerhard Lötter (hoofafrigter), Tangeni Lungameni (hulpafrigter), Eric von Molendorff (krag- en kondisioneringsafrigter) en Hestelle Spies (spanbestuurder).
Gerhard Lötter, wat vandeesweek saam met Fortune Matawu in Nederland is as deel van hul ICC Vlak 3-afrigterskwalifikasie, sal die eerste twee wedstryde misloop voordat hy by die groep in Uganda aansluit.
Die Namibiërs se wedstrydprogram:
Vrydag 6 November: teen Uganda (08:30)
Saterdag 7 November: teen VSA (08:30)
Sondag 8 November: teen Rwanda(08:30)
Dinsdag 10 November: teen Uganda (08:30)
Woendag 11 November: teen VSA (08:30)
Donderdag 12 November: teen Rwanda (08:30)
Saterdag 14 November: Bronsfinaal (08:30) / Bekerfinaal (13:00).


