Vroue-Eagles slaan terug en klop CSA Akademie
Krieket
Namibië se nasionale vrouekrieketspan, die Capricorn Eagles, het Saterdag goeie veggees en vaardigheid uitgestal deur Krieket Suid-Afrika se Opkomende Vroue Akademie-span met drie paaltjies te klop.Die Suid-Afrikaners het by die High Performance Oval die loot gewen en gekies om te kolf, maar is beperk tot 116 vir agt in hul 20 boulbeurte. Onder druk van die Namibiese boul- en veldwerkprestasie het die besoekers vier paaltjies deur uithardlope verloor.
Die Eagles se aanvangsbouler Eveleen Kejaruka het twee paaltjies vir 18 in vier boulbeurte (16 leë balle) geneem, met Mekelaye Mwatile (1/11 in 4; een leë boulbeurt; 18 leë balle) selfs meer ekonomies en haar ouer suster Wilka Mwatile (1/24 in 4 boulbeurte; 11 leë balle) ook doeltreffend.
Jenna Evans (44 van 44 balle; ses viere) het die Suid-Afrikaners se kolfbeurt bymekaar gehou nadat sy as nommer ses op 26/4 (6.2 boulbeurte) ingestap het.
Namibië het beide aanvangskolwers – Kayleen Green (9) en kaptein Suné Wittmann (0) – vroeg verloor, maar Yasmeen Khan het met nege viere in haar beurt van 41 van 26 balle tot die aanval oorgegaan.
In net Khan se tweede boulbeurt in die middel, geboul deur Kayla R, het die Namibiese nommer drie-kolwer netjies vier grenshoue geslaan vir ‘n boulbeurt wat 16 lopies gekos het.
Edelle van Zyl (18 van 26) en Mekelaye Mwatile (18 nie uit van 16 balle nie) het ook hul rol gespeel toe die Eagles 117/7 bereik het met vier balle oor.
Ná hierdie uitslag was die Suid-Afrikaners steeds met 2-1 voor in die reeks van vier T20's, met die laaste een wat gistermiddag afgehandel sou word.
Die twee spanne sal ook drie 50-boulbeurtwedstryde op Dinsdag 8, Donderdag 10 en Saterdag 12 Julie by dieselfde veld speel.
Die huidige reeks vorm ‘n belangrike deel van die voorbereiding vir die komende ICC T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi vir Afrika-vrouespanne, wat laat in Augustus in Windhoek aangebied word. Namibië en sewe ander Afrika-nasies sal meeding vir twee plekke om tot die wêreldwye ICC T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi deur te dring.