Vrouespan kom nie by Thailand verby nie
Krieket
Die Capricorn Eagles van Namibië kry sover opdraand in hul strewe om teen hoër gerekende spanne hul merk te maak by die ICC Ontluikende Nasies vrouetoernooi in Bangkok, Thailand.In hul internasionale T20-kragmeting het Thailand (115/6) gister vir Namibië (88/8) met 27 lopies verslaan.
Yasmeen Khan (27 van 34 balle; 3x4) en Kayleen Green (22 van 31 balle; 3x4) het die hoogste tellings vir Namibië behaal, nadat die kaptein Suné Wittmann twee viere geslaan het en toe vir 8 (5 balle) geboul is.
Van die res kon ongelukkig net die paaltjiewagter Mezerly Gorases (16 van 22 balle) vir ‘n tydjie lank staande bly en niemand kon ná Green of Khan weer ‘n enkele grenshou behaal nie.
Die Namibiërs het in hul lopiejaagtog te kort geskiet teen vernuftige draaiboulers soos die speler van die wedstryd, Sunida Chaturongrattana (Thailand) 3/19 in 4 boulbeurte.
Dit was ondanks die vroeër uitstekende boulsyfers wat Naomi Benjamin (2/16 in 4 boulbeurte), Wilka Mwatile (1/9 in 4) en Eveleen Kejarukua (1/14 in 4) behaal het om gesamentlik net 39 lopies in twaalf boulbeurte af te staan.
Die Eagles sal vandeesweek hul storie moet ken indien hulle hoop om in die boonste helfte van die kompetisie te eindig. In die toernooi van agt nasies wat vanaf 11de tot 19de op die wêreldranglys geplaas is, lê van hul strafste wedstryde nog voor – insluitend Skotland wat hulle Dinsdag inwag.
Klop Uganda
Vrydag het die Namibiërs wel hul eerste sukses gesmaak toe hulle ‘n lae kolftotaal teen Uganda verdedig het.
Die Eagles (83/8 in 20 boulbeurte) het Uganda (71/7 in 20 boulbeurte) met 12 lopies geklop.
Die speler van die wedstryd, Leigh-Marie Visser, het in haar internasionale T20-debuutwedstryd drie paaltjies vir 10 lopies in 4 boulbeurte geneem.
Nadat hulle ingestuur is om te kolf, het Namibië vir Sunè Wittmann (0) na net twee balle verloor. Kayleen Green (21 van 37 balle; 2x4) en Yasmeen Khan (19 van 25 balle; 3x4) het aan die gang begin kom, maar hul vertrek het 'n ineenstorting veroorsaak met slegs nommer nege Naomi Benjamin wat 18 nie uit van 17 balle (2x4) kon haal.
Met dien bal het Eveleen Kejarukua en Arrasta Diergaardt vroeë deurbrake gemaak, voordat Visser met linkerarm-draaiballe na vore getree het om drie Uganda-kolwers uit te haal en die druk skerp te laat opbou.
Mekelaye Mwatile het toe 'n paaltjie in ‘n leë boulbeurte geneem, voordat sy in haar tweede boulbeurt nog 'n paaltjie geneem het (2/8 in 2).
Puntestand (ná 3 wedstryde elk)
1 Skotland, wen drie, 6 punte
2 Thailand, wen twee, 4 punte
3 Nederland, wen twee, 4 punte
4 V.A. Emirate, wen een, 2 punte
5 Papoea-Nieu-Guinee, wen een, 2 punte
6 Uganda, wen een, 2 punte
7 Namibië, wen een, 2 punte
8 Tanzanië, wen een, 2 punte


