Wanderers-agttal dikteer sake teen Unam

Klubrugby
Die topvier spanne handhaaf na dese 'n oënskynlik veilige verskil van 13 punte voor die vyfde geplaaste Universiteit van Namibië.
Andrew Poolman

Die voorloper in die Namibië Rugby-unie se premierliga, FNB Wanderers, was Saterdag in geen bui om gunste te bewys aan FNB Unam in die besoekers se strewe om in hul oorblywende wedstryde ‘n plek in die semifinaal te verseker nie.

Die Wit Hingste het rustyd met 22-7 voorgeloop, op pad na ‘n oorwinning met 48-24.

Afrigter Darryl de la Harpe het agterna gesê Wanderers het hard gewerk om in die vaste fasette te domineer en dit was bevredigend om die vrugte hiervan te pluk.

“Ek is baie bly ons kon die twee bonuspunte inoes (vir minimum sewe drieë). ‘n Mens kan krediet gee aan Unam, wat goed aangeval het en ook doeltreffend was om ons by die losskrums onder druk te plaas. Met alles in ag geneem, is ek baie tevrede.”

Wanderers se kaptein Danco Burger het ook lof uitgespreek dat Unam ‘n goeie vlak van intensiteit met hul verdediging gebring het. “Ons manne het kalm gebly en op hul taak gefokus, wat my beïndruk het. Ons vat een wedstryd op ‘n slag en ons het die ligapunte verseker wat ons wou gehad het.

Die Unam-afrigter David Philander het erken hulle was bewus dat dit ‘n moeilike taak sou wees om Wanderers op hul tuisveld te gaan klop. Hy sê die studentespan sal alles gee vir ‘n eindpoging om vanaf die vyfde posisie daardie een tree boontoe te gee.

“Ons het goed voorberei en ons selfvertroue was goed, maar ons vaste fasette wou nie werk teen Wanderers se skrums en lynstaandrywe nie. Ons het hard probeer om die wedloop te bly, maar krediet aan Wanderers; hulle het die oorwinning verdien.”

Wanderers se driedrukkers was haker Edward Drotsky (3), agtsteman Adriaan Booysen (2), slot Kistings Minyoi, vleuel Nandivatu Karuuombe en heelagter Jaylon Carew. Doelskoppe is deur die senters André van der Berg (1) en kaptein Danco Burger (4) bygevoeg.

Unam het geantwoord met drieë deur vleuel Lazarus Joseph, senter Willon du Plessis, losskakel Keanan Diergaardt en flank Feddy Mazila. Twee van heelagter Aljarreau Zaahl se doelskoppe het die kol getref.

 

United domineer Dolphin

Die Swakopmund-klub FNB Dolphin het by Gemsbokpark in Olympia sy kompeterende vlak hierdie seisoen uigestal deur vyf drieë teen Montego United te druk, maar die tuisspan het sy kaarte reg gespeel om met 45-30 te wen.

Vir United, wat in sy derde posisie goed geplaas is vir die semifinale, is twee bonuspunte verseker met hul sewe drieë vir die dag. Hul driedrukkers was die kaptein Thehard Lintvelt (2) en sy flankmaat Ben Burger, senters Jurgen Meyer en Keanan Januarie, vleuel Jandre Esterhuyzen asook die plaasvervanger-voorspeler Johan Brockman. Vyf doelskoppe van heelagter Enrique Husselmann was tussen die pale deur.

Dolphin se drieëbonuspunt was aan vyfpunters deur heelagter Zaino van Wyk, vleuels Jerome Immanuel en Antonio Titus asook die slotpaar Jerome Schumann en Conwill Draghoender te danke. Losskakel Maughan Jarman het een doelskop en ‘n strafdoel bygevoeg.

 

Rooi Bulle beklink derby

Daar was min te kies in ‘n opwindende dag van hardlooprugby in die suide-derby by die St. Joseph-skoolveld voordat FNB Rehoboth Saterdag dramaties met 47-40 teen FNB Reho Falcon gewen het.

Rehoboth was ietwat meer bestendig hierdie seisoen en was rustyd met 24-13 voor, maar sy buurklub Reho Falcon het teruggeveg om ná 52 minute die voortou met 34-27 oor te neem.

Met strafdoele uitgeruil deur die akkurate stelskoppers aan beide kante, het die stryd op op 27-27, 34-34, 37-37 en 40-40 gelykop gebly totdat Rehoboth se flank Deevan Mathys die wendrie gedruk het, toe die wip van ‘n skop deur skrumskakel Jason Farmer drie van Mathys se opponente ontwyk het.

Sy flankmaat Delano van Wyk (twee drieë), senter Keathan van Wyk en skrumskakel Jason Farmer was die ander driedrukkers vir Rehoboth, terwyl suksesvolle doelskoppe deur Farmer (1), haker en kaptein Kevin Cloete (1) en senter Miquel Busch behaal is. Busch het hom boonop met ‘n skepdoel en drie strafdoele laat geld.

Aan Reho Falcon se kant het drieë deur flank Keynen Basson (2) en heelagter JP van Wyk asook ‘n strafdrie vir ‘n bonuspunt gesorg. Die gedeelde skopwerk van senter Henrique Olivier (drie doelskoppe en vier strafdoele) en losskakel Cliven Loubser (een strafdoel) het deurentyd die telbord se druk op die Rooi Bulle gehou.

• FNB Kudus klop FNB Grootfontein met 48-31; wedstrydverslag op bl. 3.

• Puntestand, uitslae, nuus en komende bepalings by www.nrurugby.my.na/