Wanderers draai by 90 teen Reho Falcon

Klubrugby
FNB Unam het op sy tuisveld die Khomasdal-derby teen FNB Western Suburbs oorheers.
Andrew Poolman

FNB Wanderers het sy posisie boaan die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga gekonsolideer met ‘n reuse-oorwinning van 90-7 teen FNB Reho Falcon op die Dr. Lemmer-hoërskoolveld op Rehoboth.

André van der Berg, wat as binnesenter begin het met Kian Fransman op losskakel vir die Wit Hingste, het met ‘n drie en agt doelskoppe ‘n totaal van 21 punte bygedra.

Die wenspan se ander driedrukkers was die haker Edward Drotsky, wat ook self verdoel het, slot Ruan Ludick, flank Dhale Cloete, skrumskakel Jacques Theron, senter Danco Burger (2), vleuel Tolley Tjipute (2) en heelagter Jaylon Carew (2), asook die plaasvervangers JP Campbell en Owen Hawanga.

Geel kaarte vir die agtsteman Kyle Nel, slot Ruan Ludick en plaasvervanger JP Campbell het nie veel van ‘n verskil aan Wanderers se momentum gemaak nie, wat hul rustydvoorsprong van 33-7 in die laaste 40 minute in eenrigtingverkeer omskep het.

Wanderers se afrigter Darryl de la Harpe was agterna heel in sy skik met die vertoning. “Ons het goed gevaar in die vaste fasette, en veral ons benadering om die spel nie te los te laat raak nie, het vrugte afgewerp. Die agterspelers het ook goeie werk gedoen met die balbesit wat aan hulle verskaf is.

“Ons verdediging was uitstekend … dis ook iets wat ons hard aan werk. Ons kan positiewe dinge vorentoe vat in die opbou na die uitklopfase.”

Reho Falcon, wat geen geelkaart afgestaan het nie, se enigste drie is in die eerste helfte deur buitesenter JP van Wyk gedruk, met die doelskop deur heelagter Sven van Wyk.

 

Pasella vir Grootfontein

FNB Rehoboth het uit sy wegwedstryd teen die tweede geplaaste FNB Grootfontein onttrek.

Hierdie verwikkeling besorg aan Grootfontein die volle ses ligapunte en ‘n uitslag van 49-0 vir die doeleindes van punteverskil, terwyl ses ligapunte van Rehoboth afgetrek word.

Grootfontein (50 ná elf wedstryde) is net met een ligapunt agter Wanderers (51 ná tien wedstryde), gevolg deur Montego United (42 ná nege wedstryde), FNB Kudus (38 ná nege wedstryde) en Unam (31 ná nege wedstryde).

 

Unam bly in wedloop

In die Unam-stadion het FNB Unam ook Saterdag in die tweede helfte die krane oopgedraai om ‘n oorwinning met 68-10 teen FNB Western Suburbs op te stapel.

Afrigter David Philander se studentespan is vyfde geplaas en sal op sy heel beste moet wees (en ‘n mate van geluk aan sy kant moet hê) in die oorblywende wedstryde indien hy FNB Kudus (vierde) wil verbysteek om vir die halfeindronde te kwalifiseer.

Unam het agterna die trofee geborg deur MedRescue 911 ontvang vir sy oorwinning in die jaarlikse Khomasdal-derby.

Heelagter Aljarreau Zaahl het nege van sy span se tien drieë verdoel. Hyself het ook ‘n drie gedruk om met 23 punte vir die dag klaar te maak.

Unam se ander driedrukkers was die linkervleuel Don-Juan Beukes (2), regtervleuel Keno Shetukana (hul onlangse aanwins van FNB Grootfontein), die senter en kaptein Alcino Izaacs en flank Feddy Mazila, terwyl die plaasvervangers Paulus Hangula, Vomembo Shihepo, Lazarus Joseph (ook tevore van Grootfontein) en Caeden Moller ook elkeen ‘n drie gedruk het.

Western Suburbs se weerstand is net met ‘n drie deur slot Gerhardt Vaino, asook ‘n doelskop en strafdoel deur heelagter Wyatt Brooks beloon. Skeidsregter Danie Koen se enigste geelkaart is aan Unam se losskakel Keanen Diergaardt vir ‘n professionele oortreding toegeken.

 

NRU Reserweliga

In wedstryde tussen die tweedespanne het Wanderers II met 52-10 teen Reho Falcon gewen; Kudus was met 65-0 baas teen FNB Dolphin; Unam was met 66-7 te sterk vir Western Suburbs, en Rehoboth het onttrek teen Grootfontein.

• Stand van die premierliga, uitslae en komende bepalings by www.nrurugby.my.na/