Wanderers teken 104 teen Suburbs aan
Die voorloper op die punteleer, FNB Wanderers-rugbyklub, het Saterdag op sy tuisveld ‘n honderdtal teen FNB Western Suburbs opgestel, nadat die Wit Hingste rustyd reeds met 45-7 voorgeloop het.
Die vleuel Nandivatu Karuuombe en die baljagterflank Jorick Muir het elk drie drieë gedruk, met verdere vyfpunters deur buitesenter Owen Hawanga, agtsteman Adriaan Booysen, flank Kyle Nel (2), slotte JP Campbell (2) en Kistings Minyoi (2), haker Edward Drotsky en plaasvervanger-agterspeler Ryan Coetzee bygedra is.
Op losskakel het Johnny Mwenyo 12 van Wanderers se 16 drieë verdoel.
Selfs met ervare nasionale spelskeppers soos André van der Berg en medekaptein Danco Burger afwesig, het Wanderers eenvoudig te veel skietgoed vir die besoekers gehad.
Western Suburbs, wat hom aan die onderpunt van die puntelys met net drie ligapunte ná elf wedstryde bevind, het nietemin een bonuspunt te danke aan vier drieë bygevoeg. Sy driedrukkers was agtsteman Nzola-Menza Nkunku (2), losskakel Wyatt Brooks, wat met vier doelskoppe geslaag het, en senter Morgan Esterhuizen.
Filistyne klim na tweede
Montego United-rugbyklub het FNB Grootfontein in die tweede posisie verbygesteek deur dié twee toonaangewende klubs se botsing in die noorde met 'n oortuigende telling te wen (50-17).
Dis nie aldag dat Grootfontein op hul tuisveld oorskadu word nie, maar die noordespan moes hierdie keer tweede viool speel en kon geen ligapunt inoes nie. Die haker en kaptein Wikus Jacobs en flank Pieter Daan Kok het hul enigste drieë gedruk, terwyl senter Franklin Busch twee doelskoppe en ‘n strafdoel bygedra het.
Hierteenoor het afrigter Herman Lintvelt se United-span sewe drieë aangeteken om die maksimum twee bonuspunte te verseker.
Heelagter Jurgen Meyer (2), regtervleuel Jandre Esterhuyzen (2) en die senterpaar Suramie Kambombo en kaptein DJ Holtzhausen het baljaar met die balbesit wat aan die agterlyn verskaf is, terwyl die besige flank Thehard Lintvelt ook nie van die doellyn weggehou kon word nie. Lintvelt (drie doelskoppe, een strafdoel) en plaasvervanger Enrique Husselmann (drie doelskoppe) het die stelskopwerk verdeel.
Kudus baljaar by Dr. Lemmer
Die titelhouers, FNB Kudu-rugbyklub, het by die Dr. Lemmer-skoolveld op Rehoboth ook die maksimum twee bonuspunte teen FNB Reho Falcon verdien en sodoende die gaping tot 14 ligapunte tussen hulself in die vierde plek en FNB Unam (vyfde) vergroot.
Die slot Clayton Camm en heelagter Aston Mukwiilongo het elk drie drieë vir die span van Walvisbaai gedruk, terwyl die losskakels Denzo Bruwer (6) en Kyle Wentzel (2) doelskoppe deur die pale gestuur het. Nog vyfpunters is deur vleuel Lloyd Jacobs en Lucio Isaacs, agtsteman Ja-Tamson van der Berg (2) en haker Roberto Lensley bygevoeg.
Reho Falcon kon net met drieë deur agtsteman Thomas Kali en slot Hope-do Angula, asook ‘n strafdoel en doelskop deur senter Henrique Olivier antwoord.
Wenpunte vir Unam
By die Unam-stadion het FNB Unam ses drieë gedruk om FNB Rehoboth se besoekende Rooi Bulle met 42-24 te klop.
Die wenspan se senter Willon du Plessis (2), heelagter Aljarreau Zaahl, losskakel Keanan Diergaardt, agtsteman Gilad Plaatjies en reserwe-losvoorspeler Valentino Niigambo het hul drieë afgerond, waarvan Zaahl met ses uit ses doelskoppe geslaag het.
Drie geelkaarte vir Unam teenoor een vir Rehoboth het net ‘n geringe invloed op die uitslag gehad. Rehoboth se driedrukkers was slot Charl Freygang (2), skrumskakel Jason Farmer asook die veelsydige Deevan Mathys, gewoonlik ‘n losvoorspeler wat as heelagter ingespan is. Losskakel D. Beukes het twee keer verdoel.
• Bly op datum met komende bepalings, uitslae, nuus en die ligastand, by www.nrurugby.my.na/


