Wanderers weer onkeerbaar en United bly tweede
Die losskakel André van der Berg en senter Danco Burger het met hul terugkeer uitgeblink toe FNB Wanderers Saterdag in die Namibië-rugbyunie (NRU) se premierliga opnuut ’n groot oorwinning van 73-14 teen FNB Rehoboth opgestapel het.
Beide was afwesig toe die Wit Hingste die vorige naweek ‘n honderdtal (104-28) teen FNB Western Suburbs in Khomasdal opgestapel het. Afrigter Darryl de la Harpe se manne het op 1 Augustus ook in ‘n wegwedstryd teen FNB Reho Falcon ‘n wegholtelling (90-7) behaal.
Saterdag by die St. Joseph-laerskoolveld in Rehoboth het Van der Berg twee drieë gedruk en nege doelskoppe oorgeskop (altesaam 28 punte).
Burger het ook twee keer gaan druk, in die oorwinning waarmee Wanderers hul voorsprong van tien ligapunte boaan die punteleer gehandhaaf het.
Benewens die genoemde twee het elke ander lid van Wanderers se agterlyn ook een drie gedruk, naamlik heelagter Jaylon Carew, vleuels Nandivatu Karuuombe en Tolley Tjipute, senter SW Kuhn en skrumskakel Jacques Theron, asook die haker en kaptein Edward Drotsky en flank Dhale Cloete.
Rehoboth, tans in die sewende posisie, het nie meer ‘n kans om vir die uitklopfase te kwalifiseer nie, en kon net twee drieë behaal wat deur senter Elmarco Beukes en stut Jeremey-Paul Cloete gedruk en beide deur losskakel Denver Beukes verdoel is.
• Dit was ’n uiters suksesvolle uitstappie vir Wanderers, aangesien hul tweede span ook oorheers het met ’n oorwinning van 101-3 teen Rehoboth II. Agsteman Joe Losper (vier drieë) en skrumskakel Dominique Isaacs (drie) was van die uitblinkers, terwyl die vleuel Bryton Beukes sy stempel met 13 doelskoppe afgedruk het Die wenspan was rustyd met 54-0 voor.
United bly op koers
Die tweede geplaaste Montego United het Vrydagaand hul tuiswedstryd teen FNB Universiteit van Namibië met 36-25 by Gemsbokpark in Olympia gewen, nadat hulle vyf drieë teenoor vier gedruk het.
Die lostrio van Richard Mupewa, Ben Burger en kaptein JD Nel het elkeen een drie vir die Filistyne gedruk, asook losskakel Hanreco van Zyl en vleuel Irongwa Atshivudhi. Die vleuel Enrique Husselmann se 11 skoppunte het een strafdoel ingesluit.
Een van United se prominente figure, die flank Thehard Lintvelt, is vir ’n verwagte ses maande buite aksie nadat hy in die vorige naweek se oorwinning teen FNB Grootfontein ’n skeur in sy meniskus opgedoen het.
Unam (vyfde met 38 punte en vier oorblywende wedstryde) se kans om in die topvier te eindig, is prakties gesproke reeds daarmee heen, met Grootfontein vierde op 51 punte en drie wedstryde oor.
Die studentespan het nogtans ‘n bonuspunt bygevoeg danksy hul vier drieë wat deur haker Marchall Klein, skrumskakel Caeden Moller, senter en kaptein Alcino Izaacs en heelagter Don-Juan Beukes gedruk is. Twee van losskakel Aljarreau Zaahl se doelskoppe was oor.
• Unam se tweede span het United II met 82-20 geklop in hul NRU-reserweligawedstryd.
Unam se losvoorspeler Valentino Niigambo het vier van hul 12 drieë gedruk, waarvan losskakel Geraldo Beukes elf verdoel het. Die vleuels Carlo Hawanga en Khee-Shan Beukes het elk twee gedruk. Unam II het die vorige naweek ook vir Rehoboth II met 80-3 oorrompel.
• FNB Western Suburbs het aan hul wegwedstryd teen die derde geplaaste FNB Kudus op Walvisbaai onttrek. Kudus kry ses ligapunte en ’n oorwinning van 49-0 is toegeken, terwyl ses ligapunte van Western Suburbs afgetrek word.
• FNB Reho Falcon het aan hul wegwedstryd teen FNB Dolphin op Swakopmund onttrek. Dolphin kry ses ligapunte en ’n oorwinning van 49-0 is toegeken, terwyl ses ligapunte van Reho Falcon afgetrek word.
• Punteleer, wedstrydbepalings en uitslae by www.nrurugby.my.na/
Vroueliga
Unam Steenbokkies het Saterdag gewys dat hulle die krag is om mee rekening te hou in die NRU-vrouerugbyliga (15-aan-‘n-kant) deur United Gemsbokkies met 63-7 te klop.
Die wenspan se losskakel Michelle Slinger het elk van die nege drieë verdoel, waarvan heelagter Ivone Kooper het drie drieë gedruk het. Die ander driedrukkers vir die wenspan was senter Ellen Garoës, skrumskakel Pioné van Rooyen, die flanke Kaylin Basson (kaptein) en Elzane-Lee Basson, slot Letisha Matheus en plaasvervanger Kylie van Wyk.
United se nr. 8 Arriena Diergaardt het hul enigste drie gedruk, wat deur senter Tiffany Lawrence verdoel is.


