Wanderers wys kolfkrag; vroue-skeidsregter breek deur

Krieket
Tielman Van Lill
’n Deurmekaarspul het Saterdag tydelik in die uitslag van die 50-boulbeurt premierligawedstryd tussen Samsung Imperial Wanderers 1 en CCD Tigers 1 in Windhoek geheers.
Met die kragmeting se einde in sig, kon die tellinghouers van Krieket Namibië nie by Wanderers die korrekte telling aan die hoofskeidsregter op die veld bevestig nie.
Volgens cricclubs.com, waar die telling elektronies bygehou word, se aanvanklike inligting het Wanderers 216 lopies vir die verlies van 5 paaltjies vir ’n oorwinning aangeteken. Die gasheer moes slegs 208 lopies vir ’n sege behaal, maar het ná ’n klaarblyklike misverstand heelwat meer op die telbord geplaas.
PD Blignaut het die laaste lopies met ’n ses oor die bykantgrens geslaan. Volgens die tellinghouers se eindtotaal moes Wanderers in daardie stadium met 210 lopies reeds die kragmeting gewen het.
Sport Wrap moes weens die raaiselagtige 216 lopies die regte aantal boulbeurte wat afgestuur was by skeidsregter Eloise du Plooy uitvind wat dit as 36.4 bevestig het.
Du Plooy het Saterdag ’n deurbraak gemaak toe sy as skeidsregter haar eerste premierligawedstryd saam met Claus Schumacher hanteer het. Sy is die eerste vrou in Namibië sedert Reinette Hulme in die vroeë 2000’s wat tot dié vlak vorder.
Kort nadat Du Plooy die aantal boulbeurte aan Sport Wrap verskaf het, het die uitslag volgens cricclubs.com ’n nuwe wending geneem. CCD Tigers het toe vir Wanderers wat net 170/4 in 31 boulbeurte kon aanteken met 37 lopies oordonder.

DIE VERLOOP
Die besoekers CCD Tigers het die loot gewen, eerste gaan kolf en is in 48.2 boulbeurte vir 207 uitgeboul. Wanderers behaal 210 vir 5 in 36.4 vir ’n 5-paaltjiesege.
Nicol Loftie-Eaton (37 lopies), Norbert Mayande (41), Tawanda Sithole (30), Ryan Moffet (23) en Ramon Wilmot (18) het met dubbelsyfers die grootste deel van hul totaal bygedra. Die 27 ekstras was ’n billike bonus vir Tigers.
Vir Wanderers het Dewald Nell 4 paaltjies vir 46 lopies in 6.1 boulbeurte geneem en Nyasha Nyasha was ook op sy stukke met 3/31 in 9.
Laasgenoemde het met die vyfde bal van sy eerste boulbeurt die gesogte deurbraak gemaak om die premierliga se huidige voorste lopiemaker Stephen Baard vir 9 skoon te boul, nadat Baard reeds twee grenshoue geslaan het.
Karl Birkenstock, JC Balt en Janu Dreyer het een elk CCD-paaltjie bewerkstellig.
Die gewese nasionale Eagles-speler, Karl Birkenstock, het met 45 nie uit nie van 47 aflewering Wanderers se vordering lewendig gehou. Hy het sewe viere grens toe gejaag. Sy kolftelling was Saterdag aanvanklik as 51 nie uit nie gedokumenteer.
Die aanvangskolwers JC Balt (49 van 63 balle) en Niko Davin (30 van 21 balle), spankaptein Michau du Preez (21 van 25 balle), JJ Smit (33 van 47 balle) en Nyasha Nyasha (17 van 19 balle) het dubbelsyfers vir die gasheer behaal voordat Blignaut (7*) die finale spyker kom inkap het.
Loftie-Eaton (2/38 in 8), Tawanda Sithole (2/46 in 6.4) en Junior Kariata (1/27 in 7) het paaltjies vir Tigers geneem. Loftie-Eaton het JJ Smit, sy Eagles-spanmaat, met ’n puik aflewering skoongeboul.
Hoewel Kariata net een paaltjie laat val het, was dié linkerarm naatbouler van die junior Eagles, pas ná sy o.19 Wêreldbeker-deelname, vrek suinig met sy boulsyfers van 3.86 per boulbeurt.
[email protected]