Welkom terug Christine!

Atletiek
Dis amptelik ? Namibië se Christine Mboma mag weer in die 100 en 200 die wêreld aan die brand hardloop.
Tielman Van Lill
Namibië se Olimpiese silwermedaljewenner Christine Mboma mag amptelik weer in die 100 en 200-meternaellope meeding. Die 400 wat egter haar beste item is, bly steeds vir haar taboe.
Wêreldatletiek het Vrydag via sy departement van gesondheid en wetenskap die aankondiging gedoen. Volgens Wêreldatletiek se regulasie wat op 31 Maart 2023 in werking gestel is, moet die Namibiese superster steeds haar natuurlike testosteroonvlakke in toom hou.
Mboma was vir 24 maande in die atletiekwoestyn terwyl sy haar testosteroon stelselmatig deur die verpligte gebruik van medikasie moes verlaag. Sy het sedert Oktober 2023 vir ses maande haar testosteroon suksesvol onder 2.5 nanomoles per liter (nmol/L) gehou.
Mboma sal voortaan haar testosteroonvlak deurentyd minder as 2.5 nmol/L moet hou om amptelik in atletiekbyeenkomste te mag deelneem. Indien sy dié vlak vir ‘n tydperk van 24 maande kan volhou, mag sy inderdaad ook weer vir die 400 meter-naelloop aantree, is belowe.
Die Namibiër word in Meimaand maar 21 en ondanks die twee jaar wat sy steeds nie die 400 mag hardloop nie, wink ‘n opwindende terugkeer tot die korter naellope totdat 5 April 2026 sy opwagting maak.
Intussen kan Mboma as atleet kan ontwikkel en groei. Haar beste jare lê nog voor.
Volgens beskikbare inligting aan Sport Wrap sal Christine vandeesmaand nog aan haar eerste amptelike byeenkoms buite Namibië deelneem sedert Wêreldatletiek met die spesiale regulasie die mat onder haar voete uitgepluk het – nie lank nie nadat sy die Diamantliga-finaal in Zürich se 200-titel in September 2021 verower het.
Namibiërs en haar getroue ondersteuners sal nietemin geduldig moet wees. Vuurwerke behoort nie uit die staanspoor van haar verwag te word nie. Mboma is tans besig met ‘n geduldige opbou om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer en haar allerbeste sal nie oornag gebeur nie.
Henk Botha, haar afrigter, is ‘n meesterlike strateeg en sal verseker dat daar nie onnodige druk op haar geplaas word nie. Talent soos Mboma is ‘n rare verskynsel en dié ongelooflike atleet kan binnekort Namibiërs se harte weer tjoklits laat pomp.

HAAR BESTES SOVER
Mboma se persoonlike beste tye en rekords word so deur Wêreldatletiek aangedui.
100 meter: 10.97 sekondes (30 April 2022, Gaborone, Botswana) Afrika o.20-rekord en Namibiese senior rekord.
200 m: 21.78 (9 September 2021, Zürich, Switserland) – Namibiese senior rekord, o.20-wêreldrekord, senior Afrika-rekord.
400 m: 48.54 (30 Junie 2021, Bydgoszcz, Pole). Hierdie verbysterende vertoning sou haar die sewende vinnigste vrou in die geskiedenis, met die 12de beste tyd nóg gemaak het.
Ongelukkig erken Wêreldatletiek nie meer die 48.54 as haar beste tyd nie, maar wel die 49.22 wat sy op 17 April 2021 tydens die Namibiese senior kampioenskap by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek aangeteken het.
Sy was vir 43 weke die onbetwiste nommer een op Wêreldatletiek se 200-vroueranglys.