Windhoek Gim Leeus brul hard en eindig bo
Die eerste rugbyspan van King Price Windhoek Gimnasium sal boaan die puntelys van die 2026 Momentum onder-19 premierliga (ondersteun deur My Zone) klaarmaak – maar dié naweek se deurslaggewende uitslae sal die samestelling van die semifinaliste bepaal.
Vier spanne het nog ‘n kans om hulle aan te sluit by die toptwee – Windhoek Gimnasium (75 punte) en Autohaus Windhoek Affies (73), wat nou beide reeds hul ligaverpligtinge voltooi het.
Die onttrekking van De Duinesig het die aantal deelnemende spanne van twaalf tot elf verminder nadat die kusspan reeds ‘n paar wedstryde gespeel het, maar die organiseerders het toe besluit dat die oorblywende spanne elkeen op nege wedstryde (eerder as die volle tien) sal afsluit ten einde die finale puntestand te vereenvoudig.
Voor komende Saterdag se vier wedstryde het vier spanne nog ‘n realistiese kans om die twee beskikbare plekke in die topvier te verseker, vir die semifinale wat op 14-15 Augustus voorlê, met die eindrondte ‘n week later.
Op Stampriet sal Farmstyle Elnatan teen Samsung Windhoek Hoërskool ‘n regstreekse uitklopstryd wees met net een wat sal kan deurdring.
Leeus slaag Tsumeb-toets
Afrigter Mauritz Thirion se Windhoek Gimnasium-span het Woensdagmiddag hul finale ligaverpligting in ‘n wegwedstryd teen Hollard Tsumeb Gimnasium met nóg ‘n groot oorwinning (52-8) afgesluit.
Hierdie uitslag het die Gim Leeus na die topposisie laat verbyskuif, nadat Windhoek Affies in die onlangse weke boaan die lys was.
‘n Positiewe punteverskil van 311 vertel hoe dominerend Windhoek Gimnasium vir groot gedeeltes van sy 2026-veldtog was. In nege wedstryde het hulle net een verloor (22-34 teen Windhoek Affies), terwyl hulle ses vyftigtalle teen Namib Diesel Walvisbaai (57-21), Elnatan (64-5), Karstveld (96-26), Lightstruck Dr. Lemmer (58-14), Moria (62-38) en Tsumeb (52-8) ook ‘n 40-5 uitslag teen Pro-Ed Akademie opgestapel het.
Op Tsumeb was die vleuels Kyle van Wyk (twee) en Juan van Wyk, senter Fourie Steyn, skrumskakel Cayden van Wyk en slot Buhlem Oelofsen (twee) die driedrukkers vir Windhoek Gimnasium, terwyl ‘n strafdrie ook toegeken is. Die senter en kaptein JD Jankowitz het met vyf doelskoppe geslaag.
Die oorwinning op Tsumeb is egter nie sonder moeite behaal nie.
“Dit was ons sesde wedstryd op ‘n streep wat Saterdag-Woensdag-Saterdag-Woensdag-Saterdag-Woensdag afgehandel is, so die manne se poeiers is nou maar bietjie min,” het afrigter Thirion uitgewys.
“Dit was ‘n voorreg om op Tsumeb te speel; hulle span bring alles wat hulle het, ondanks ‘n kleiner getal spelers en hoewel hulle ook deur ‘n paar beserings uitgedun is. Hul ondersteuners bring ook ‘n besondere gees.
“Tsumeb het verskeie uitstaande spelers, soos hul agtsteman (Eduardo Amutenja), skrumskakel (Christiaan Kriel) en die stut en kaptein (Emile Kuhn).
“Ons slot Curnal Beukes het nie saam gereis nie weens ‘n ernstige enkelbesering wat hom dalk vir die res van ons seisoen kan uitskakel. Heelagter Emmanuel Jimmy is ook ná net vyf minute met ‘n liesbesering af.
“Ons is verlig om die manne ‘n afnaweek te kan gee en sodra ons weet wie ons opponent in die semifinaal sal wees, kan ons Maandag weer begin mobiliseer.”
Tsumeb Gimnasium se afrigter Wouter Niehaus sê: “Die wedstryd was lekker kliphard en in goeie gees gespeel. Halftyd was ons nog binne bereik (8-17), maar daarna het ons twee geelkaarte (juis die agtsteman en ons stut en kaptein) en ‘n strafdrie het ons kanse beëindig en teen ‘n bulspan soos Windhoek Gim het jy al jou manne op die veld nodig anders laat hulle jou les opsê.
“Die beserings maak ons weer dood hier aan die einde van die seisoen. Ons het 20 spelers gehad en nou nog net 16 oor om die naweek by Pro-Ed te gaan speel.”
Koedoebulle klop Dr. Lemmer
Op Rehoboth het die WHS Koedoebulle Woensdagmiddag ook die aanvanklike weerstand van die tuisspan stelselmatig afgetakel op pad na ‘n oorwinning met 33-23.
WHS het in die eerste helfte net twee drieë teen nul gedruk om rustyd met 12-6 voor te loop. ‘n Onderskepdrie deur Dr. Lemmer se regtervleuel Beleon Cloete vier minute later het die telling op 19-16 te staan gebring, maar dit was die naaste wat die groen-en-geel van die tuisspan aan ‘n verrassing sou kom.
Dr. Lemmer het met die gedeelde skoppunte deur senter Marcius de Waal en heelagter Maldanado de Wee, asook twee drieë (De Wee en Cloete) afgesluit.
‘n Besondere hoogtepunt kort voor die einde was die WHS-haker An-Ree Swartbooi se stukkie dekverdediging om ‘n 65-meterlopie van Romario van Wyk met ‘n duikslag op die hoekvlag te gaan keer.
WHS se volpunte is deur die drieë van senter Ignatius Kandowa (2), vleuel Xavier Bampton (2) en plaasvervanger-agterspeler Carlos Florian verseker, terwyl Kandowa se vier doelskoppe ewe broodnodig was.
Sonder ses WHS-spelers wat tans saam met die Namibiese o.20-span in Uganda op toer is, bly die Koedoebulle se uitdaging om op Stampriet te gaan wys dat hulle soos verlede jaar in die uitklopfase van die kompetisie hoort.
Saterdag se bepalings
Stampriet: Farmstyle Elnatan tn Samsung Windhoek Hoërskool.
Swakopmund: Inspares Pro-Ed Akademie tn Tsumeb Gimnasium.
Stampriet: PSG Roots Gimnasium tn Karstveld.
Walvisbaai: Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool tn OK Moria.
• Puntestand, uitslae en nuus by www.rugby.my.na/


