Wintertoer bied puik uitdaging

Bergfietsry
-
Tielman van Lill

Die afgelope naweek (12 tot 14 Junie) het Johan’s Training Centre se jaarlikse Winterbergfietstoer in die omgewing van Nina, sowat 150 kilometer oos van Windhoek, plaasgevind.

Dit was ’n geleentheid waar vriende en families saamgekom het om ’n naweek van genotvolle, maar ook uitdagende, bergfietsry te geniet. Nuwe gesigte het mekaar leer ken en lekker saam gekuier.

Johan Fourie vertel: “Dié toer bied elke jaar vir die sosiale fietsryer die geleentheid om ’n nuwe uitdaging aan te pak of selfs net ’n kans te kry om asem te skep. Alhoewel ’n spesifieke roete uitgesit is, het deelnemers die keuse gehad om óf die volle afstand te ry óf net gedeeltes daarvan af te lê.

“Vanjaar se roetes het oor 140 kilometer gestrek, wat op beide die Vrydag en Saterdag gery kon word. Op Sondag het die groep ’n rustige stap by Saroa Safari Lodge geniet, waar ons gehuisves is.

“Dit was die vierde agtereenvolgende jaar wat ons Saroa as basis gebruik het. Hier word daar altyd hartlik na ons omgesien, en die natuurskoon dra by tot die rustigheid wat ’n mens nodig het ná ’n lang dag in die saal.

“In baie opsigte ondersteun die man die vrou, of andersom, of twee vriende skryf saam in en ondersteun mekaar. Waar beide man en vrou ryers is, help hulle mekaar deur die roete. Ons gee nie altyd aan ons ondersteuningspan die waardering wat hulle verdien nie, want sonder hulle is dit nie altyd moontlik nie. Roelf en Jaimé Smit het na die ryers omgesien deur elke dag die waterpunt te beman. Dit is iets wat maklik as onbelangrik beskou kan word, maar sonder hul bydrae kan ryers baie keer nie die eindpunt bereik nie.

Vir sommige ryers was die uitdaging om 140 km oor twee opeenvolgende dae af te lê, nadat hulle reeds hul verste persoonlike afstande bereik het. Die belangrikste aan die einde van die dag is om te probeer, want niemand begin perfek nie,” het Johan gesê.

Die volgende deelnemers het hul verste afstande nóg behaal deur aaneen te ry: Betsie Koster (134 km), Elfie Moolman (42 km) – dit was haar eerste keer; Noelene Bassingthwaighte (14 km) – ook haar eerste probeerslag; en Chastin Bassingthwaighte (75 km).

“Buiten ’n anonieme borg wat finansieel tot die toer bygedra het, bedank ek graag die volgende borge: The Grove Superspar, Saroa Safari Lodge, Chiwani Safari Camps, Pupkewitz Toyota en Rhodes Foods. Sonder hul ondersteuning sou die geleentheid nie moontlik gewees het nie,” het Johan gesê.

Volgende op die kalender vir 2026 is Johan’s Training Centre se jaarlikse Driepasse-bergfietstoer van 16 tot 18 Oktober. Hou gerus Facebook dop vir verdere inligting.”

Johan kan by +264 81 122 3058 of [email protected] gekontak word.