Wiseman en Armand blink uit in o.15-finaal

Krieket
Andrew Poolman
Krieket Namibië se nasionale onder 15-week van 50-boulbeurtwedstryde is Maandagoggend afgesluit, met Sentraal Rooi wat die eindstryd met 94 lopies teen die Noorde-span beklink het.
In die finaal (30 boulbeurte per span) by die Wanderers-veld het Sentraal Rooi op 155/9 afgesluit, voordat hy die Noorde vir 61 lopies in 21.1 boulbeurte uitgeboul het.
Die wenspan se kolfbeurt het egter nie oortuigend begin nie, met die eerste drie paaltjie plat vir 21 lopies vir die verlies van Armand Scholtz (4), kaptein Louis Burger (0) en Peyton Zehrt (5).
Gillmer Horn (die begaafde o.13-speler van Windhoek Affies wat volgende jaar sy skoolloopbaan by Paarl Boys High voortsit) het as aanvangskolwer drie viere geslaan voordat hy op 49/4 (12.3 boulbeurte) moes terugstap vir 25 lopies van 39 balle.
Toe Nicklai van Vuuren (0) en Vincent Erasmus (2) boonop in dieselfde boulbeurt moes terugstap (telling 59/6 ná 14.6 bb) was ‘n reddingspoging met die kolf nodig.
Wiseman Dangarembizi (St. George’s) het in ‘n puik 50 nie uit nie (48 balle) ses grenshoue en ‘n ses geslaan en het steun van Luan Brand (26 van 27 balle; 2x4) en Nicholas Janse van Rensburg (16 van 21 balle; 1x4 1x6) gevind.
Vir die Noorde was Ryan Myburgh ‘n doeltreffende bouler met drie paaltjies vir 38 in vyf boulbeurte. Henco van der Merwe het die druk laat oplaai deur net 1.67 per boulbeurt af te staan (1/10 in 6) Willie Swart het hom ook met 2/30 in ses boulbeurte laat geld.
Die Noorde-kolwers het hulle egter teen die boulwerk van Armand Scholtz vasgeloop, wat vyf kolwers vir net 13 lopies in ses boulbeurte laat terugstap het. Scholtz is as speler van die wedstryd aangewys, met net Johandre Badenhorst (19 van 46 balle; 4x4) wat vir die Noorde ‘n bietjie kon vasskop.

Bronsmedalje
In die uitspeelwedstryd vir die derde plek het Sentraal Blou (201/7) met 38 lopies teen die Kusspan (163/9) gewen.
By die Wanderers-veld is Markus van Heerden (Windhoek Affies) as speler van die wedstryd aangewys vir ‘n vyftigtal (51 nie uit nie van 38 balle; 3x4 3x6) voordat hy ook 1/28 in 4 bb geneem het.

O.15-week se topkolwers
1 Markus van Heerden (Sentraal Blou) 247 lopies, vier vyftigtalle, hoogste 83.
2 Gillmer Horn (Sentraal Rooi) 212 lopies, twee vyftigtalle, hoogste 90.
3 JW Junius (Sentraal Blou) 177 lopies, een vyftigtal, hoogste 78.
4 Henco van der Merwe (Noorde), 165 lopies, twee vyftigtalle, hoogste 68.
5 Kobus Engelbrecht (Noorde) 120 lopies, een vyftigtal, hoogste 71.
6 Emile Vilbert (Kus) 91 lopies, hoogste 39.

O.15-week se topboulers
1 Willie Swart (Noorde) elf paaltjies, beste 5/21.
2 Luan Brand (Sentraal Rooi) tien paaltjies, beste 4/33.
3 Tapiwa Kaisi (Sentraal Blou) tien paaltjies, beste 4/25.
4 Henco van der Merwe (Noorde) nege paaltjies, beste 3/23.
5 Armand Scholtz (Sentraal Rooi) nege paaltjies, beste 5/13.
6 Nicklai van Vuuren (Sentraal Rooi) nege paaltjies, beste 3/39.