Bultende kuite hierdie naweek

Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks in volle gang
Die 2022-uitgawe van die Nedbank Windhoek Pedal Power-renreeks het in Januarie begin met die Döbra Loops, gevolg deur wedrenne by Dordabis, Matchless, Teufelsschlucht en Carin Park.
Die reeks sluit volgende naweek, op 21 Augustus, by Ovitoto, af.
Tydens die vorige rondte van die reeks by Teufelsschlucht, het Gerhard Mans Jnr die eerste plek ingepalm in die manskategorie in ’n tyd van 02:48:46, gevolg deur Kai Pritzen, en Clinton Hilfiker in die derde posisie. In die vrouekategorie het Michelle Döman die eerste plek in ’n tyd van 02:20:09 verower, gevolg deur Marisa Mouton, en Hester Prins in die derde plek.
Hierdie naweek se rondte is ’n spantydproef, waar spanne uitgestuur word met tussenposes om ’n bepaalde afstand af te lê. Die spanne met die vinnigste tye per afstand sal as die wenners aangewys word, en na die finale rondte op 21 Augustus deurdring waar die wenners van die vorige rondes sal meeding vir die titel van 2022 Nedbank Windhoek Pedal Power-kampioene.
Nedbank Namibië se kommunikasie en openbare betrekkinge bestuurder, Selma Kaulinge, het gesê die bank se borgskappe het beslis ’n positiewe impak op die groei van fietsry in die land. “Dit is duidelik dat ons bydraes inderdaad van die land se beste fietsryers opgelewer het. Die fietsry-kompetisies wat ons borg het Namibiese fietsryers aangedryf om die land op internasionale verhoë te verteenwoordig en het ons land ’n hupstoot gegee in die wêreldranglys.”
Sy het voorts gesê dit is deur kompetisies soos hierdie dat fietsryers soos Alex Miller deelneem en wen by groot wêreldbekende sportbyeenkomste soos die Statebondspele.
“Ná ons afsluit met vanjaar se Nedbank Windhoek Pedal Power-renreeks, begin ons regmaak vir die Nedbank Desert Dash wat op 9 en 10 Desember plaasvind,” het sy afgesluit.