Enduro se wiele aan die rol

Tielman van Lill
Die vyfde been van die Ark Trading nasionale enduro-kampioenskap word môreoggend naby die westelike verbypad aangebied – naby genoeg vir mense om te gaan kyk hoe die ryers met hul motorfietse die moeilike terrein aandurf.
Die nasionale reeks is reeds verby die halfpadmerk en ná môre se kompetisie bly net drie kompetisies oor voor die Namibiese kampioene vir 2022 bekroon word.
Goeie nuus is dat X-Race Namibia volgende maand ná ’n lang afwesigheid sal terugkeer. Die X-Race by Elisenheim is deel van die kontinentale Afrika-kampioenskap en word op 30 September en 1 Oktober aangebied. Dié kompetisie lok gewoonlik topryers van Suid-Afrika en die kontinent wat punte vir die Afrika-kampioenskap jag.
Die Namibië Enduro-klub bedank Teichmann Namibia vir die skraap van die twee kilometer grondpad, asook die skoonmaak van die kuipe-area.
Om daar uit te kom, ry noord op die westelike verbypad vanaf Prosperita of Unam. Draai links by die Chinese Railroad Seventh Group-kamp. Hou regs verby die kamp en volg die pad vir ongeveer 2 km tot by die kuipe.