‘Gedink ek droom,’ vertel Mike (14)

Jong fietsryer maak opslae in Kaap
Sy afrigter reken Mike Baartman het meer jong Namibiërs geïnspireer om buite die landsgrense te gaan wys wat hulle kan doen.
Kristien Kruger,Andrew Poolman
“Ek het vooraf grappenderwys vir my ma gesê ek gaan wen, maar die besef het eers ingesink toe ek ’n paar kilometer voor die einde steeds in die voorste groep sit.”
So vertel die 14-jarige Mike Baartman, wat Sondag die goud by die Kaapstad-fietstoer se 42 km-resies gewen het. Dié skoolseun van Windhoek Gimnasium het groot drome en hy blyk nie vir teleurstellings of harde werk te skrik nie.
“Voor die wegspring was ek nogal gespanne, want dis ’n hoogtepunt van my jaar. Maar toe ons eers ry, het ek rustiger geraak,” vertel hy.
“Om só ’n grote te wen, was ’n ongelooflike gevoel en ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink ek droom.
“Al die aandag is bietjie oorweldigend,” vertel Mike.
Die 42 km-resies is oop vir alle ouderdomme en meer as 1 800 ryers het daarvoor ingeskryf.
Met sy eindpoging het Baartman daarin geslaag om die twee ander tienerjarige Suid-Afrikaners wat saam met hom aan die voorpunt was, met twee sekondes na die wenstreep te klop. Sy wentyd was een uur, 18 minute en 35 sekondes.
Moeilike roete
Die resies se roete het in Kaapstad begin tot by die Muizenberg-afdraai, verby die Groote Schuur-hospitaal met die eindstreep teen nóg ’n opdraand in Strandstraat in die middestad.
Dié roete het dus verskeie bulte ingesluit en Mike gee toe dat die klimwerk met tye uitdagend was. Hy voeg by die resies se pas was hoog, maar sy uithouvermoë en doelgerigtheid het hom die oorhand gegee.
Een van Mike se mentors, die nasionale afrigter Hans du Toit, meen dis moeilik vir enige seun om in die baie sterk kompetisie van Namibië se talentvolle onder 16’s sake bo uit te kom.
“Mike het gewys hy kan in Suid-Afrika die mense van sy ouderdom gaan aanvat en hy het baie goed gevaar. Ek glo hy het ander jonges geïnspireer om in die Kaap ’n kans te gaan waag,” sê Du Toit.
Mike sal eers in Augustus 15 jaar oud word.
Mike het ook verlede jaar aan die Kaapstad-fietstoer die 42 km gery en het sewende uit 72 ryers in sy kategorie geëindig en algeheel 13de van die meer as 1 500 deelnemers.
Du Toit vertel Mike het verlede jaar “met sy taktiek bietjie verkeerd gegaan, maar vanjaar het hy alles agtermekaar gesit en ’n baie mooi prestasie behaal”.
Buiten vir sy mees onlangse oorwinning, verteenwoordig Mike ook sy skool in die FNB-skoleliga vir bergfietsry, waar hy verlede jaar ’n bronsmedalje in sy onderdomsgroep verower het.
Ander vorige hoogtepunte sluit in die eerste plek in sy ouderdomsgroep by die Food Lover’s Market se individuele tydtoetsreeks, asook tweede in die 2023 Windhoek Pedal Power –padfietsreeks vir o.14-seuns.
'Lekker hardkoppig'
Mike vertel hy het aanvanklik as ’n grap in graad 3 begin om “as ’n ekstra sport” fiets te ry, maar het algaande sodanig gegroei dat hy in graad 8 besluit het om rugby te los.
“Ek het my eerste fietsryskoene met my eie geld gekoop. Die eerste paar jaar was rof, maar met goeie afrigting en uithouvermoë het ek aanhou groei.”
Hoewel Mike vertel hy is nog jonk en fokus bloot op een resies op ’n slag, maar het hy koester wel drome om eendag oorsee te gaan ry. Hy is geensins van plan om binnekort sy fietsryskoene op te hang nie. “Ek sal graag so lank as moontlik wil fietsry,” sê hy.
Volgens sy pa Mike senior, ook ’n fietsryer wat die Nedbank Desert Dash solo aanpak, en ma Johanna kan hul oudste seun soms baie druk op homself plaas as hy eers ’n doelwit gestel het en dan werk hy baie hard daarvoor – of dit nou sport of skool is.
“Hy is lekker hardkoppig en hoewel dit nie altyd maklik is nie, sal hy maar net weer begin en aanhou,” vertel Johanna.
Mike meen die grootste invloede op sy fietsrysukses is die afrigters Carolin Janik, Hans du Toit en Michael Falk. “En natuurlik my ma, pa en boetie Shorty, wat my deur alles ondersteun.”
[email protected]