Rehoboth spog met drie rugbyuitblinkers

Boet Matthews
Die sitplekke word reggeskuif vir die Wêreldbekertoernooi wat volgende maand in Frankryk afskop.
Of dit op die pawiljoen of iewers op ’n hoë gebou in Frankryk is of op die sitkamerbank voor die televisie soos in verskeie huise wêreldwyd – almal is reg om vir hulle gunstelingspan en man te skree. Groot name soos Suid-Afrika, die verdedigende kampioene, en die All Blacks wat soos die Bokke al drie keer met die gesogte trofee weggestap het, is twee van die gunstelinge.
Namibië – die “Land of the Brave” – sal ook weer teenwoordig wees en dit vir die sewende keer. Die Welwitschias kon nog nie een wedstryd wen nie, maar wees verseker dat die Namibiërs elke vier jaar verbeter. Vanjaar gaan die span alles in die stryd werp om hul eier te breek en hul naam op die wenlys te plaas. Die teiken is sonder twyfel Uruguay – vir wie die Welwitschias al een keer geklop het.
In Rehoboth is die verwagtinge hoog – baie hoog. Die rugbyliefhebbers van die dorp spog met drie spelers in die toergroep van 33 name wat onderskeidelik volgende week Dinsdag en Woensdag vertrek.
Die jong mans is nog nie verseker van ’n plek in die uitdunrondes nie, maar op Rehoboth is rugby-aanhangers vol hoop dat hulle droom verwesenlik sal word en hulle sal uitdraf met daardie nuwe rugbyskoene vir deelname aan die skouspel in Frankryk.
Gerswin Mouton wat tans vir Wits Universiteit uitdraf, het uitstekend gespeel tydens die universiteit se ligawedstryde in Suid-Afrika. Hy was een van die uitblinkers van Wits se rugbyspan.
“Ek het nie verwag ek gaan gekies word nie en sou ek die kans kry om my talent ten toon te stel, gaan ek alles uithaal in Frankryk. My plan is om in die buiteland my merk te maak en hoop dat ek die beseringspook sal vryspring.”
Volgens Gerswin is sy pa, Deon, sy held en sy aansporing om die spel te speel.
“My pa het al drie keer vir Namibië op internasionale vlak verteenwoordig. Hy het in 1999, 2003 en 2007 vir die senior nasionale span by die wêreld se grootste skouspel uitgedraf.”
Hier op Rehoboth is baie potensiaal – veral in sportkringe wat met gereelde ontwikkeling en finansiële ondersteuning die knoop kan deurhak. ’n Geldtekort is oor die jare een van die grootste struikelblokke.
Ander name wat in vanjaar se Welwitschia-toergroep die oë kan laat rek, is Alcino Izaacs, die seun van Eben Izaacs, self ’n kranige rugbyspeler in sy fleur wat ook by die Wêreldrugbytoernooi was. Alcino het sy potensiaal ten toon gestel by Unam, Blou Bulle, Oostelike provinsie, en Boland Cavaliers.
Cliven Loubser, seun van die erkende Cliff Loubser, het by Utah Warriors in Amerika sy stempel afgedruk. Drie jong mans van Rehoboth wat met vyfstervertonings die deur na internasionale kompetisie verder kan oopswaai.
“Ek dink dit is enige ouer se trots om sy kind te sien presteer. Gerswin het op laerskool begin om rugby te speel. Hy was ook ’n kranige sokkerspeler. Hy en sy maatjies was ook elke aand by ons oefeninge en ek dink dit is daar waar die rugbygogga hom rêrig begin byt het. Hy het sy laerskool by Origo Primêre Skool klaargemaak en graad 8 by Dr. Lemmer. Windhoek Afrikaanse Privaatskool het hom ’n beurs aangebied en hy het sy hoërskoolloopbaan daar voltooi. Hy het vir Namibië-skole o.16 en o.18 gespeel en ook vir die o.20’s. Hy het toe ’n junior kontrak by die Bulle gekry en van 2018 tot 2020 by hulle gespeel, waarna hy by die Wits Universiteit aangesluit het. Hy het ’n blink rugbytoekoms voor hom, ek wens hom al die beste toe,” het sy pa gesê.
Afgesien van die drie Rehoboth-kombinasies, kan bygenoem word dat die Namibiese kaptein, die senter Johan Deysel, se pa Johan senior ook vir Suidwes-Afrika asook in 16 toetse vir Namibië in 1990 en 1991 senter gespeel het.
Die nuweling-skrumskakel Jacques Theron se pa, ook Jacques, was ’n slot vir Suidwes in 1987 en 1988.