Nortje en Diekmann vorder tot klubkampioene

Muurbal
Andrew Poolman

Wanderers Muurbalklub het die afgelope naweek sy geslote kampioenskap aangebied met Tulipamwe Consulting Engineering as die hoofborg.

Altesame 61 klublede (31 mans, 16 vroue, drie junior vroue en elf junior mans) het ingeskryf.

In die mans A-finaal het die topgekeurde Arno Diekmann met drie stelle teen nul die oorhand teen die tienerjarige Francois Hanekom junior gekry (11-6, 11-7, 11-5).

Die mans A-afdeling se bronsposisie is eers ná vyf stelle beslis, voordat die jonger Kyle Kriel (tweede gekeur) met die veteraan Michau Basson (vierde) afgereken het (9-11, 6-11, 11-5, 11-4, 11-6).

Kriel se aanslag op ‘n plek in die finaal is beëindig toe Hanekom junior in vyf stelle puik teruggeveg het om vir ‘n verarassing te sorg (12-14, 8-11, 11-6, 12-10, 11-7).

Die vrouetitel is beklink toe die eerste gekeurde Carla Nortje in drie stelle teen nommer twee Adri Lambert gewen het (11-2, 11-4, 11-6).

In die mans B-finaal het die skoolseun Charldon Fourie as topgekeurde vyf stelle benodig om die tweede gekeurde Heathlinn Cloete met 3-2 te klop (8-11, 11-13, 11-6, 17-15, 11-4).

In die junior kompetisie het Monro Pretorius eerste en Shishani Schnack tweede klaargemaak.

Die klub sê: “Spelers van elke ouderdom, agtergrond en vlak van ondervinding het aan die Wanderers geslote kampioenskap deelgeneem, en toeskouers is vir twee dae deeglik vermaak. Ons waardeer die insette van elke speler, toerskouer en oons kompetisieborg Tulipamwe Consulting Engineering.”