‘Britte wil son hê’

Moore reis Namibië plat
Die Britse hoë kommissaris in Namibië het sy mening oor die plaaslike toerismebedryf tydens die Toerisme Ekspo 2023 as 'n buitestander gelug.
Frank Steffen
Die toerismegemeenskap het gister bymekaargekom om sake rakende die plaaslike toerismebedryf te bespreek terwyl dié bedryf vorentoe beweeg ná die Covid 19-pandemie.
Tydens die seminaar – wat as deel van die Toerisme Ekspo in Windhoek aangebied is – het die Britse hoë kommissaris, Charles Moore, sy toespraak as toeris eerder as ’n hooggeplaaste gemaak en gesê Namibië is ’n verwelkomende bestemming.
Nangula Geingos, direkteur van Nason Consultancy, het gesê: “Die samekoms en uitruil van menings van en deur die verskillende partye betrokke by die toerismebedryf, beteken baie vir die bedryf.”
Eers toe hy in Namibië aangekom het, het die Moore besef hoe min van sy landgenote van Namibië weet.
“Ek doen my bes om British Airways sover te kry om Namibië as ’n stop op pad na Suid-Afrika te oorweeg. Indien enigsins, sal dit nie oornag gebeur nie, maar dit sal beslis die doel dien om Namibië as ’n bestemming vir Britte te verbeter.”
As ’n passievolle fotograaf het Moore sy absolute vreugde oor Namibië uitgespreek. Nadat hy ondervinding opgedoen het as deel van die diplomatieke korps in Afrikalande, soos onder meer Zimbabwe, Botswana, Soedan, en Ethiopië, het hy gevind Namibië verwelkom toeriste op so ’n manier dat dit werklik “’n huis van die huis af” word.
Die grootste uitdaging, volgens Moore wat al meer as 50 000 kilometer op Namibiese paaie afgelê het, is dat “Britte son wil hê”. Terwyl Namibië selfs in die winter son het, verander dit volgens Moore nie die feit dat dit uiters koud is nie. Hy het egter gevind dat die Verenigde Koninkryk se middeltermyn-skoolvakansie in Oktober val, wat Namibië se toerismebedryf kan dien.
“Dit is baie duur om na Namibië te reis. ’n Vlug na Namibië kos my dieselfde as ’n week by ’n Spaanse kusoord.”
Hy het gesê beide vliegkaartjies en verblyfkoste is eenvoudig te duur vir die man op straat. Tog het hy oor die algemeen gevind dat die Namibiese gasvryheidsbedryf wel waarde vir geld bied.
Hy bestempel egter Windhoek as vervelig, want daar is niks om te bied nie: “Wanneer jy die naweek iets wil doen, is die vervalle museums gesluit asook die toerisme-inligtingsentrums. Die botaniese tuin is ook in ’n skokkende toestand,” het hy gesê.