Huurvoertuigtekort rem toerisme sektor

Maatskappye se vloot staan op 15% ná pandemie
Ellanie Smit
Terwyl besettingsyfers by toerisme-ondernemings ’n bestendige toename toon, is ’n nuwe kommer in die sektor ’n tekort aan huurvoertuie vir die steeds toenemende selfry-mark.
Volgens die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), Gitta Paetzold, dra Namibiese motorverhuringsmaatskappye tans ’n vloot van net meer as ’n kwart van wat hulle in 2019 gehad het, ná hulle gedwing is om ’n groot deel van hul vloot te verkoop in die twee vorige jare weens die impak van die pandemie.
“Voertuigproduksie in Suider-Afrika is erg vertraag weens voorsieningskettingonderbrekings wat deur die pandemie en die onlangse vloede in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika veroorsaak is, met groot skade aan die Toyota-aanleg daar, wat die probleem vererger.”
Paetzold het gesê dit is dus goeie nuus dat FlyNamibia sy nasionale safari-roete bekendgestel het, wat gaste na sleuteltoerisme-besienswaardighede soos Sossusvlei, Swakopmund en Etosha neem. “Dit kan die druk op die behoefte aan huurvoertuie verlig, en gegewe die stygende brandstofpryse, kan dit ook ’n bekostigbare en veilige manier van vervoer word vir reisigers binne ons land.
Interessante vergelykings
Die jongste toerisme-akkommodasiestatistieke dui daarop dat besettingsyfers vir die eerste kwartaal van vanjaar op 22,67% staan, byna 3% hoër as dieselfde tyd verlede jaar.
In die eerste kwartaal van 2021 het besettingsyfers op 19,5% gestaan, terwyl dit in 2020 33% was.
Paetzold het gesê in vergelyking met die pre-Covid-19-era, toe die besettingskoers 40,48% was, beteken dit “ons het ten minste die 50%-kerf van herstel vanjaar oorskry”.
Sy het bygevoeg dat interessante vergelykings ook getref kan word wanneer na die bronmarkte van besoekers gekyk word.
Volgens haar het sowat 33% van die besoekers in die eerste kwartaal van 2022 uit groter Europa gekom, van wie 23% van die kernmarkte Duitsland, Switserland en Oostenryk was, vergeleke met 20% van die Europese besoekers in 2021 - byna 14% van wat uit die kernmarkte was.